Oudsoldaat lê besoek af om makkers te help

Talle oudsoldate se stryd om te oorleef en weer 'n plek in die samelewing te vind en hoe hy en talle ander veteraansoldate misbruik, misken en verstoot is, is ook in die kalklig geplaas.

Die besoek van die oud-recce-soldaat Wynand du Toit by die Moth-klub die afgelope naweek sal lank onthou word deur die bykans 100 makkers, oudsoldate en belangstellendes wat met baie stof tot nadenke gelaat is.

Wynand het vertel hoe hy in Mei 1985 as lid van die SA Weermag se Spesiale Magte deur FAPLA-magte in Angola gevange geneem is tydens ‘n mislukte operasie om ses olie-opgaartenks te vernietig.

Twee boeke wat hy geskryf het, “Judas Bok” en “Josefskleed”, is ná afloop van sy praatjie te koop aangebied en alle aanduidings is dat die boeiende leesstof groot byval by lesers vind.

In sy boeke beskryf hy die sameswerings en die uiteindelike afleiding dat die hele operasie slegs ‘n opening­skuif was wat uiteindelik die Suid-Afrikaanse volk moes mislei tot oorgawe in Angola en tot die onafhanklikheid van Namibië.

Hy het ook vertel van hom en sy vrou, Frances, se bywoning in Februarie 2014 van die 25ste herdenkingsvieringe van die ondertekening van die Brazzaville Protokol in die Kongo waar hy die Nasionale Meriete Order van die Kongo van Pres Denis Sassou N’Guesso van die Republiek van die Kongo ontvang het.

“Wat ek daar beleef en besef het, het die laaste stukkie van die legkaart in plek laat val, 30 jaar ná my gevangeneming in Cabinda, Angola,” het hy gesê.

Talle oudsoldate se stryd om te oorleef en weer ‘n plek in die samelewing te vind en hoe hy en talle ander veteraansoldate misbruik, misken en verstoot is, is ook in die kalklig geplaas.

“As vergete slagoffers van die destydse Kodesa-samesprekings, lewe baie oudsoldate in gebrek en armoede, hul onvermoë om in die nuwe Suid-Afrika aan te pas ‘n bewys van die ou regering se kille hantering van die eens magtigste weermag in Afrika.”

Oudsoldate het ‘n unieke kameraadskap en vorm ‘n hegte eenheid, selfs soveel jare ná die beëindiging van die Grensoorlog, en Wynand werk saam met Moth-instansies en bonde van oudsoldate om geldelike hulp en bystand te verleen aan makkers en oudsoldate waar dit nodig mag wees.

Die verrigtinge is afgesluit met ‘n spitbraai en ete waartydens daar vele stories en wedervaringe tussen ou kamerade uitgeruil is.

Wynand du Toit en Dave Harris
Wynand du Toit en oud-makker Hannes Human
Wynand se boeke, “Judas Bok” en “Josefskleed” het groot byval gevind en is vinnig opgeraap.

 

Exit mobile version