NewsSchools

Erries se 0/14’s presteer in distrikskrieketliga

Ermelo en Secunda sal weer teen mekaar in die Gert Sibande-eindstryd kragte meet.

Hoërskool Ermelo se 0/14-krieketspan het verlede Donderdag hul plek in die eindstryd van die Gert Sibande-liga op hul tuisveld verseker.

Die Erries het teen Hoërskool Secunda in hul laaste groepwedstryd van die liga te staan gekom.

Secunda het eerste gekolf en is deur die EHS se boulers beperk tot 133/6 in hul toegelate 20 beurte.

Ermelo het albei openingskolwers binne die eerste drie beurte verloor, maar die res van die span het hard teruggeveg en daarin geslaag om die wenlopies te slaan met slegs twee balle in die wedstryd oor.

Hulle wen met twee paaltjies staande.

EHS se beste boulers was Tristan Küsel met 2/15 en Hardus Rothmann met 1/15.

Hardus het ook met die kolf uitgeblink en is aangewys as beste kolwer van die dag nadat hy 76 lopies van slegs 45 balle aangeteken het.

Ermelo en Secunda sal weer teen mekaar in die Gert Sibande-eindstryd kragte meet.

Die Erries se 0/15-span het in hul ligawedstryd teen Hoërskool Piet Retief te staan gekom.

Piet Retief het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en ten spyte van uitstekende boulwerk deur Walter Visser (4/19) daarin geslaag om 199/6 aan te teken.

Die Erries se kolfbeurt is weens swak lig en reën onderbreek. Hulle kon net 98 lopies (Francois du Plessis -21 en Walter Visser -20) aanteken en is sodoende uit die liga geskakel. Die Erries se eerstes het die naweek na Standerton gereis vir die Gert Sibande-halfeindstryd teen Hoërskool Standerton.
EHS het die loot gewen en besluit om eerste te boul.

In dié wedstryd, wat ‘n paar keer weens swaar weer onderbreek is, het Standerton 159 lopies aangeteken en met uitstekende boulwerk die Erries verhoed om hul telling te oorskry.

Related Articles

Back to top button