NewsSchools

Ligbron krieketspanne slaan wennoot

Stefan Horn het die Oosies se boulers gekasty en 74 prag-lopies aangeteken.

Die 0/14-, 0/15A-, tweede- en eerste krieketspanne van Ligbron Akademie vir Tegnologie het die afgelope week gewys waartoe Ligbron se krieketspanne in staat is deur hul wedstryde te wen.

Die eerstespan het Saterdag op hul tuisveld teen Hoërskool Evander te staan gekom. Evander het eerste gekolf en 82 lopies almal uit in 27.1 boulbeurte aangeteken.

Ligbron se kolwers het die wenteiken in slegs 16 boulbeurte behaal en 86 lopies vir die verlies van twee paaltjies aangeteken en die wedstryd met 8 paaltjies gewen. Hanco Bakker was die beste kolwer met 34 lopies (n.u.n)

Die Liggies kom eerskomende Saterdag teen Hoërskool Hoogenhout in die Gert Sibande halfeindwedstryd te staan.

Die tweede span het ook Saterdag op hul tuisveld teen Hoërskool Oosterland te staan gekom. Ligbron het eerste gekolf en 200 lopies almal uit aangeteken.

Stefan Horn het die Oosies se boulers gekasty en 74 prag-lopies aangeteken.

Oosterland se kolwers het geswik voor die boulaanval van die Liggies en kon net 118 lopies aanteken wat aan Ligbron ’n oorwinning van 82 lopies besorg het.

Die tweedes sal eerskomende Saterdag tuis teen Hoërskool Piet Retief te staan kom.

Die 0/15A krieketspan het Saterdag teen Hoërskool Embhalenhle op Laerskool Ermelo se veld te staan gekom.
Embhalenhle was eerste voor die penne en die openingskolwers het ’n blitsvinnige 20 lopies in die eerste drie boulbeurte aangeteken.

Kort daarna het hulle eerste paaltjie gekantel en teen die vierde boulbeurt het hul telling op 24 lopies vir die verlies van twee paaltjies gestaan.

Ligbron se boulers het egter teruggeveg en daarin geslaag om die besoekers in die 16de boulbeurt uit te haal met 97 lopies op die telbord.

Zartius Swart met 3/12 in 3 boulbeurte, Xavier Fourie met 2/6, Aldo Myburgh met 2/ 15, en Lance Smith met 2/19 was die boulers wat die skade aangerig het.

Ligbron se openingskolwers het aanvanklik die aanslag van die Embahlenle boulers weerstaan en die eerste paaltjie het eers met die telling op 32 lopies gekantel.

Die tweede paaltjie het in die 10de boulbeurt geval met die telling op 65 lopies. Standvastige kolfwerk het verseker dat Ligbron die verlangde telling in die 15de boulbeurt verbygaan het en die wedstryd met agt paaltjies gewen.

Aldo Myburgh met 32 lopies n.u.n. en Ruben Herbst met 13 lopies n.u.n het vir Ligbron met die kolf uitgeblink. Die 0/15A’s is tot dusvêr onoorwonne en het deurgedring na die Gert Sibande Half-eindwedstryd wat Saterdag op Ligbron se tuisveld gespeel word.

Die 0/14krieketspan het verlede Donderdag teen Hoërskool Oosterland op Secunda te staan gekom.
Oosterland het eerste gekolf en het 81/6 in die toegelate 20 boulbeurte behaal.

Ligbron het Oosterland se telling reeds in die 14de boulbeurt verbygegaan vir die verlies van net twee paaltjies om die wedstryd met agt paaltjies te wen. Deon Meyer het 23 lopies tot Ligbron se telling bygedra en C.J Bierman was Ligbron se beste bouler met syfers van 2 /7 in vier boulbeurte.

Ligbron se derde span sal ook op Saterdag tuis teen Hoërskool Hoogenhout in aksie wees.

DSC_0614
Calvin Clack van Ligbron se tweede span speel na die bal tydens die wedstryd teen Hoërskool Oosterland.

 

Related Articles

Back to top button