GeneralNews

Ongeluk laat Anton wielloos

"Daardie is my droomvoertuig, ek soek nie ’n nuwe kar nie. Ek wil net my ‘wit hings’ soos ek na hom verwys, terughê".

Die bekende weldoener en motiveringspreker van Ermelo, Anton Franken sit self op moedverlore se vlakte nadat sy spesiaal aangepaste motor, ’n Jeep Cherokee, onlangs in ’n ongeluk beskadig is.

Sedertdien sit Anton sonder vervoer en kan nie sy afsprake nakom nie. Albei sy bene is etlike jare gelede in die heupe  geamputeer weens komplikasies wat ingetree het ná  ’n swaarvoertuig ongeluk tydens sy militêre diensplig in die destydse SWA.

Die omvang van sy penarie is tydens ’n eksklusiewe onderhoud met die Hoëvelder uitgelig.

“Dis maar ’n netelige saak wat weens rondslomp en nalatigheid aan die kant van verskeie intstansies daatoe gelei het dat ek nou met ’n probleem sit,” het Anton vertel.

Omdat die motor doelgerig aangepas is met handkontroles is ’n spesiale bestuurderslisensie aan Anton uitgereik en moes hy self ’n gespesialiseerde bestuurskursus ondergaan.

“Daar is nie ’n vervaldatum op die lisensie nie en omdat dit nie in kaartvorm is nie verskyn dit nie op die E-natis se lisensiërings-databank nie. Om dié rede is my versekeringseis deur die versekeraars afgekeur want volgens hulle beskik ek nie oor ’n geldige bestuurderslisensie nie. Die lisensie is in die vorm van ’n amptelike en beëdigde dokument wat telkemaal in padblokkades  deur verkeerspolise aanvaar is,” het Anton gesê.

Verskeie probeerslae om sy lisensie in kaartvorm te laat omskakel  is weens rompslomp van lisensiebeamptes verydel. Dokumente is óf verloor of verlê en verskeie opvolgbesoeke aan die lisensiekantoor op Ermelo was vrugteloos.

Volgens Anton het ’n amptenaar selfs aangebied om die lisensie summier aan hom uit te reik teen ’n “paslike vergoeding”.

“Ek is nie daai soort mens nie en ek het die aanbod van die hand gewys. Ek doen dinge op ’n eerlike manier”

Omdat die versekeraars nie die eis wil toestaan nie kan Anton nie die voertuig laat herstel of ’n ander voertuig aanskaf nie. Hy is ook nie finansiëel in staat om die herstelkostes te betaal wat volgens die versekeraars etlike duisende Rand beloop.

Vir  Anton is ’n voertuig noodsaaklik aangesien hy by skole, kerke, hospitale, sakegeleenthede en ook privaat motiveringspraatjies lewer om mense aan te moedig en op te beur. Benewens dié optredes doen hy ook ‘sterkman-vertonings’ waar hy voertuie met ’n tou etlike meters ver sleep ten spyte van die feit dat hy nie bene het nie.

“Ek voel ek laat die gemeenskap in die steek. Die motor is deur die goedhartigheid van die gemeenskap van Ermelo aan my geskenk toe my ou-karretjie die gees gegee het. Dit was werklik vir my ’n seën uit die Vader se hand en ek kon soos enige ander mens vrylik rondbeweeg en my medemens help en ondersteun, waar en wanneer hulle my nodig gehad het. Dit is immers waarvoor die motor aan my geskenk is.”

Verskeie afsprake moes reeds gekanselleer word.

“ ’n Afspraak waar ek iemand wie se voet geamputeer is sou bystaan en moed inpraat moes gekanselleer word omdat ek eenvoudig nie daar kon uitkom nie,” het Anton gesê.

My Vryheid om rond te beweeg is nou erg ingeperk, ek onthou elke oggend as ek daai motorhuis oopmaak en ek sien  my voertuig, dan kyk ek met ’n dankbare hart. Ek is ’n mense mens en as ek ’n klip uit iemand se pad kan rol dan is ek dankbaar.  Daardie is my droomvoertuig, ek soek nie ’n nuwe kar nie. Ek wil net my ‘wit hings’ soos ek na hom verwys,terughê.  Ek is lief vir die natuur, ek kon daarheen ontsnap en my battery herlaai as dinge my begin vang.  ’n Mens se wêreld raak klein as jy heeldag tussen vier mure sit, dit vang jou!”

Die Hoëvelder het intussen ’n paneelklopper asook ’n motorherstel onderneming genader wat bereid is om Anton se motor teen ’n baie billike bedrag te herstel, mits die nodige geld bekom kan word.

Mense wat bereid is om Anton te help kan hom skakel by 071 326 2819.

Related Articles

Back to top button