Local newsNews

Bekende rolbalspeler groet Ermelo

"My kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, kerk en sport is waarvoor ek leef."

Bekende sakevrou en plaaslike rolbalster, Maggie Barnard, het besluit om Ermelo te verruil vir die stadsliggies.
Sy en haar man, Charlie, het 42 jaar gelede vir die eerste keer Ermelo toe gekom en met Leyland wat uit die land onttrek het, hul onderneming, Eastern Transvaal Truck Centre, geopen.

Later het hulle hul besigheid Witrivier toe geskuif. 12 jaar gelede het die egpaar weer hul pad Ermelo toe gevind en die suksesvolle Ermelo Truck & Tractor begin.

Maggie was baie betrokke by die bestuur en sukses van die onderneming wat sy selfs ná die dood van haar man in 2007 steeds met ‘n ysterhand bedryf het.

Die tyd het nou aangebreek vir haar om af te tree.

Sy sien daarna uit om langs ou vriende in te trek en kan nie wag om nuwe rolbaluitdagings in Gauteng aan te pak nie.

Maggie is ‘n bekende in Ermelo se rolbalgeledere. Sy het 11 jaar lank provinsiaal gespeel en spog ondermeer met ‘n goud by die SA’s, het verskeie kere die Mpumalanga Meesters gewen, het ‘n termyn as president van Ermelo Rolbalklub gedien en het ‘n magdom enkels-, dubbels-, pare- en klubtitels agter haar naam.

Maggie het as jong vrou graag tennis gespeel tot een dag in 1975 toe sy haar eerste hout gerol en die rolbalgogga haar gebyt het.

Sy het eers sosiaal gespeel en onthou die dae toe Emile Saad, destyds ‘n bekende sakeman van Ermelo, haar die spel leer speel het.

Rolbal het ‘n groot deel van Maggie se lewe geword, maar, eie aan haar aard, kon Maggie dit nie langer duld om net sosiaal te speel nie en het haar op die mededingende sy van die spel toegespits.

“Ek speel nie vir tydverdryf nie, ek het nog altyd ander dinge gehad om tyd mee te verdryf,” het Maggie gesê.

Volgens Maggie is daar nie ‘n manier dat sy gaan ophou speel nie en sy vertel dat sy by Vriendekring in Groenkloof gaan aansluit.

Sy sien baie uit na die nuwe uitdaging en hoop om haar rolbalmerk in Gauteng te kan maak.

“Sy laat beslis ‘n groot leemte in ons klub. Ermelo en Mpumalanga verloor een van sy sterre en ons verlies is hul aanwins,” het ‘n woordvoerder van Ermelo Rolbalklub laat weet.

Maggie sê sy het lekker jare in Ermelo beleef, maar nou is dit haar tyd.

“My kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, kerk en sport is waarvoor ek leef.”

Sy deel haar lewensfilosofie dat mens nie sommer net moed opgee nie en dat jy nooit moet bly lê nie, maar weer moet opstaan, hetsy in die sakewêreld of op die sportveld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button