Local newsNews

Polisiekaptein gaan reis en rus

Kapt Sudria Jordaan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens lê die tuig ná meer as 41 jaar neer.

Kapt Sudria Jordaan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens lê die tuig ná meer as 41 jaar neer.

Haar loopbaan het in 1975 begin toe sy as studentkonstabel haar opleiding by die Polisiekollege ontvang het.

Sy was deel van die tweede inname van vroue wat die vorige jaar vir die eerste keer in die polisiediens toegelaat is

In Desember van dieselfde jaar is sy aangestel as konstabel by Ermelo se aanklagtekantoor.

Twee jaar later het sy getrou en Norwood toe verhuis waar sy by navrae (uniform) en later in die finansiële afdeling gewerk het.

In 1981 is sy bevorder tot sersant en in 1983 het sy na Ermelo teruggekeer as hofordonnans en later finansies waar almal na haar verwys het as “professor”.

Sudria is in 1993 bevorder tot adjudant-offisier en in 1997 is sy verplaas na Ermelo se vuurwapeneenheid waar sy ook deel geword het van die Ojemba-taakspan waarvan sy die bevelvoerder was.

Sy beskryf dié tyd as die hoogtepunt van haar loopbaan en vertel spottend dat dit gevoel het of sy regte polisiewerk gedoen het.

In 2004 het sy by die plaaslike kriminelerekordsentrum ingeval, waar sy onder meer as misdaadtoneelbestuurder, laboratoriumtegnikus en AVIS-operateur gewerk het en later as ondersteuningshoof en operasionele bevelvoerder gedien het.

Haar rang van luitenant wat sy in 2011 ontvang het, is dié jaar herroep na kaptein (met die afskaffing van die luitenantsrang).

Sudria vertel dat die polisiediens ook deur die jare vir haar baie geleenthede gebied het en het sy onder die SAP vaandel haar provinsiale kleure in beide Volly-en netbal verwerf.

Deur die jare het sy ook die hele land verken. Sy onthou ’n aanhaling uit haar kollegedae: “Join the police and see your country”, beslis waar woorde, volgens haar.

Sy vertel dat sy wonderlike tye in Ermelo gehad het en dat sy die voorreg om dié interessante werk te kon doen, vir seker gaan mis.

Sy sien egter uit na haar aftrede en het reeds haar eerste van vele reise na die vreemde beplan. Sy beoog ook om nader aan haar kinders wat in Gauteng woon, te trek en tyd aan haar stokperdjies, wat motorfietsry insluit, te bestee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button