Local newsNews

Huwelik-resep werk al 65 jaar

‘n Bekende egpaar van Ermelo, mnr. Moolman en me. Mara Mentz, trek reeds 65 jaar saam in die huwelikstuig. Hulle het dié lang egverbintenis verlede Donderdag saam met familie en vriende aan hul meenthuis in John Vorsterpark gevier. Wyle ds. N.J. Veltman het die paartjie, albei oud-Erries, op 30 Junie 1951 in die NG Moederkerk …

‘n Bekende egpaar van Ermelo, mnr. Moolman en me. Mara Mentz, trek reeds 65 jaar saam in die huwelikstuig.

Hulle het dié lang egverbintenis verlede Donderdag saam met familie en vriende aan hul meenthuis in John Vorsterpark gevier.

Wyle ds. N.J. Veltman het die paartjie, albei oud-Erries, op 30 Junie 1951 in die NG Moederkerk in die huwelik bevestig.

Moolman was ná sy opleiding aan die Universiteit Stellenbosch behulpsaam met die stigting van die Militêre Akademie in Pretoria wat later na Saldanha verskuif het.

In Pretoria het hy tot die balie toegetree nadat hy hom in die regte bekwaam het.

Ongeveer 41 jaar gelede het die egpaar van die hoofstad na Ermelo terug verhuis. Met Mara wat hom in tye van voor- en teëspoed getrou bygestaan het, het Moolman die gemeenskap baie jare as knap regsgeleerde, bekwame politikus (hy het Ermelo sewe jaar in die Volksraad verteenwoordig) en voorslagboer gedien.
Moolman (89) en Mara (86) is met vyf kinders, twee seuns en drie dogters, asook 12 klein- en ses agterkleinkinders geseën.

Op ‘n vraag wat hulle resep vir ‘n lang en gelukkige huwelik is, het die egpaar geantwoord: respek vir en vertroue in mekaar, terwyl albei vennote in alles 100 persent moet
gee. (CK)

Related Articles

Back to top button