Local newsNews

Wat eet ons dié vakansie?

Al werk albei die ouers in 'n huisgesin, is sommige steeds afhanklik van skole se voedingskemas wat verseker dat hul kinders ten minste 'n bord kos vir die dag kry.

Die skoolvakansie het aangebreek en baie kinders sien uit na ‘n groot roomys by die see en ander na die geur van vars gebak uit ouma se kombuis.

Maar die lekkernye en bederfkos is nie almal beskore nie; vir baie is daar nie eers kos vir die volgende drie vakansieweke in die vooruitsig nie.

Tye raak al moeiliker en al werk albei die ouers in ‘n huisgesin, is sommige steeds afhanklik van skole se voedingskemas wat verseker dat hul kinders ten minste ‘n bord kos vir die dag kry.

In sommige gevalle is dit die enigste kos wat die kinders daagliks kry.

Die meeste laerskole in en om Ermelo het voeding-skemas. Daarvan word die meederheid deur die staat gesubsidieer en in die ander gevalle is dit ouers en vrywilligers wat daagliks sorg vir ‘n warm maaltyd en hul ontferm oor die behoeftiges.

Die vreugde van drie weke se vryheid sonder skool is gou vergete wanneer die hongerpyne begin knaag.

Solidariteit se Helpende Hand het onlangs ‘n verslag oor hul kosblikkie-projek uitgereik, waarin hulle ‘n steekproef by vyf kleuterskole wat by die projek betrokke is, gedoen het.

Die kleuters, tussen twee tot ses jaar en selfs ouer, se mates is met die aanvang van die Desember-vakansie 2015 geneem en weer in Januarie vanjaar toe die skole heropen het.

Volgens die verslag was daar ‘n duidelike verskil in die kleuters se liggaamsmassa wat tot twee persent gedaal het.

Die vroue van Ladies Circle Ermelo het onlangs as deel van hulle liefdadigheidsprojekte by ‘n skool se voedingskema betrokke geraak.

Dis toe dat hulle besef het dat daar ‘n nood is vir kos gedurende die skoolvakansie.

Hulle het dadelik aan die werk gespring en met die hulp van ouers, die skool en anonieme skenkings het hulle vakansiepakke vir bykans 30 gesinne bymekaar gemaak.

Die Ferreiras* is ‘n gesin van vyf wat van die voedingskema afhanklik is.

Albei is werkende ouers, maar hul salarisse laat dit eenvoudig net nie toe om alles by te bring nie.

Me. Ferreira* sê die skoolvoeding-skema bring vir haar gerustheid, omdat sy weet haar kinders kry daagliks ‘n gebalanseerede maaltyd.

“Vakansies is ‘n groot probleem. Omdat die kinders heeldag tuis is, moet ek sorg vir ekstra brood om hul magies vol te hou.

“Ek kan tog nie vir hulle sê hulle mag nie eet nie,” sê sy.

Sy sê hulle skuif ander geldelike verpligtinge eers opsy sodat hulle dit deur die vakansie kan maak.

Die was die eerste projek van sy soort wat die Ladies Circle aangepak het en hulle maak reeds planne om gesinne tydens die volgende vakansie by te staan.

Volgens me. Silvija Breytenbach van Ladies Circle, sou die vakansiepakkies nooit kon realiseer sonder die onbaatsugtige bydraes van vrywilligers nie.

Sy is ook geskok dat verskeie laer- en hoërskole nie voedingskemas het nie en Ladies Circle maak tans planne om dié skole by te staan om sodanige skemas voor die einde van die skooljaar in plek te kry.

Kontant, nie-bederfbare kos, vrugte en groente is altyd in aanvraag. Skakel die Hoëvelder vir meer inligting om met die skole in aanraking te kom. As jy weet jou skool het ‘n voedingskema, laai gerus so af en toe iets by die skoolkantoor af om te help om honger magies vol en warm te kry.
(*Skuilnaam.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button