Local newsNews

Vir die liefde van die s(k)aak

Wat is dit wat die twee seuns se passie vir skaak aanvuur?

Weekliks berig die Hoëvelder oor die skaaksuksesse van die broers Otto (11) en Jan-Maarten (8) van Schalkwyk.
Maar wat is dit wat die twee seuns se passie vir skaak aanvuur?

Hul storie begin eintlik in 1972 met die opspraakwekkende Skaakwêreldkampioenskapeindstryd tussen Bobby Fischer (VSA) en Boris Spassky (Rusland).

Die stryd, wat eerder aan politiek as skaak herinner, was wêreldwyd nuushoofopskrifte. Dis toe dat die seuns se pa, Maarten, skaak ontdek en ’n liefde vir die sport ontwikkel het.

Maarten het as skoolseun sy provinsiale kleure vir die Vrystaat te verwerf en is later ook in die universiteit se skaakspan ingesluit.

In 1997 is hy in sy afdeling as Vrystaat Ope Kampioen gekroon en vandag het hy hom tot afrigting gewend.

Skaakstelle wat oral in die huis te vinde is, getuig van die belangstelling wat deur die jare gekweek is.

Maarten vertel dat dit juis een skaakstel wat op die koffie tafel was, wat Otto as vyf-jarige begin interesseer het.

Hy wou glo weet van die “mannetjies” op die bord en het daarop aangedring om te leer hoe mens dié “speletjie” speel.

Kleinboet Jan-Maarten was natuurlik baie nuuskierig en het gereeld oor Otto se skouer geloer as hy speel.

“Ek het afgeloer en vir myself uitgewerk hoe om te speel,” vertel Jan-Maarten.

Jan-Maarten was vyf en Otto sewe toe hulle aan hul eerste Gert Sibande-toernooi deelgeneem het.

Hul moes albei in die 0/10-afdeling deelneem en Jan-Maarten, wat skaars die stukke op die bord kon bykom en op

’n stoel moes staan om sy wedstryde te voltooi, het as wenner in dié afdeling weggestap.

Saterdag het hulle aan die Mpumalanga-skaakproewe in die 0/13-afdeling deelgeneem en het gesamentlik sewende geëindig in ’n kragmeting teen ouer en meer ervare deelnemers.

Vir nou is hul fokus om te kwalifiseer vir die junior skaakkampioenskap wat in Desember plaasvind.

Hoewel Otto vertel dat hy vir altyd skaak sal speel, is albei baie lief vir sport en neem aan alles deel.

Otto is ’n kranige krieketspeler en speel vir sy skool se 0/11A-span. Hy speel nou wel nie self rugby nie, maar is ’n groot ondersteuner met boeke vol statistieke wat hy jaarliks self volhou.

Jan-Maarten oefen ook bietjie rugby by die skool, maar die krieketgogga het hom ook gebyt en hy sien uit na sy eerste seisoen van “groot krieket”.

Skaak bly steeds die gesin se eerste liefde en een van Otto se twee wense is om sy ma, Karen, te leer speel, maar daar is skynbaar nie veel kans daarop nie.

Sy grootste wens is “om so goed te kan speel dat ek eendag wêreldkampioen kan wees”. Met die spring Jan-Maarten op en verwittig hom dat dit ’n eindstryd tussen hulle twee sal wees.

* Ermelo Skaakklub kom Maandae tussen 18:00 en 19:00 by die Methodiste Kerk bymekaar. Oud en jonk is welkom om by hulle aan te sluit.

Related Articles

Back to top button