Local newsNews

Oom Dries is 90

Oom Dries het vir 42 jaar Cronje's Apteek op die dorp bedryf en sê die resep vir oudword is om jouself besig te hou en nuttig te bly.

Die SAVF-Huis, Ermelo se oudste woonstel-bewoner, oom Dries Cronjé, het Vrydag sy 90ste verjaarsdag gevier.

Oom Dries het vir 42 jaar Cronje’s Apteek op die dorp bedryf en sê die resep vir oudword is om jouself besig te hou en nuttig te bly.

Die verjaardagbederf het reeds vroegoggend begin met vriende en familie wat deurgaans ingeloer het om hom geluk te wens.

Sy suster, Barbie Bredenkamp (81) van Naboomspruit en swaer, Willem Fourie (91) van Johannesburg, het die spesiale dag saam met hom kom vier.

Sy gesig het opgehelder toe hy ‘n faks met gelukwense ontvang het van sy dogter Elsabé, haar man Andrew en kleindogter Isabel wat in Engeland woon.

Hy het die faks versigtig oopgerol, die wense aan almal voorgelees en met trots vir hulle Isabel se tekening van Londen gewys en verduidelik dat dit is waar sy woon.

Opgewonde vertel hy dat Isabel die einde van die maand kom kuier en dat hy baie daarna uitsien.

Die gesprek lei weer na die apteek en oom Dries vertel van die begindae toe hulle nog in ‘n klein winkel langs die poskantoor geleë was en ná 14 jaar na die gebou op die hoek van Kerk-en De Clercqstraat getrek het.

Daar het hy sy onderneming vir nog vele jare bedryf en saam met sy vrou, Mien, wat as verkoopsdame gewerk het, het hulle “die voorste kosmetiekverkopers in Ermelo” geword.

Later het Cliff en Yolandi Fourie die apteek ” met dank oorgeneem”, vertel hy.

Yolandi kuier weekliks by oom Dries en het gesorg vir al die eetgoed op die dag.

Later die middag het sy aptekersvriende vir hom ‘n verrassingsparty by Ciao koffiewinkel gehou.

Related Articles

Back to top button