Christiaan se herstel, ‘n wonder

Na sy operasie hwt die dokter sy ouers meegedeel dat hy 'n kwadrupleeg is en dat daar niks is wat hulle verder vir hom kan doen nie.

‘n Oud-leerling van Ermelo Hoërskool, Christiaan van der Walt, se lewe en toekomsplanne het verlede jaar na’n motorongeluk in ‘n oogwink verander.

Christiaan, toe ‘n gr.12-leerling was gereed om die laaste hoofstuk van sy skoolloopbaan af te sluit toe die ongeluk plaasgevind het.

Hy het ernstige beserings opgedoen, Hy het onder andere sy nek gebreek, twee werwels vergruis en twee werwels gebreek.

Twee van sy rugwerwels het geskuif en sy skedel was op vier plekke gekraak.
Sy linker wangbeen was gebreek, hy het bloeding op die brein gehad en harsingskudding opgedoen.

Christiaan is vanaf Ermelo na Benoni oorgeplaas waar hy 21:00 die aand ‘n ses uur lang operasie ondergaan het.

Na sy operasie, terwyl hy nog in die herstelkamer was het die Neuro Chirurg, dr. Branca, sy ouers meegedeel dat hy ‘n kwadrupleeg is en dat daar niks is wat hulle verder vir hom kan doen nie. Met die dokter se besoek die volgende oggend het Christiaan sy arm 20cm van die bed opgelig.

Dr. Branca het net sy hande in die lug gegooi, die Here geprys en gesê dis ‘n wonderwerk.” vertel Christiaan se ma, Nila van der Walt.

Christiaan is dieselfde oggend uit die intensiewe eenheid na die Neuro chirurgiese saal oorgeplaas waar hy tien dae deurgebring het voor hy ontslaan is.

Hy het sy eindeksamen in Februarie geskryf en het vroeër die week die goeie nuus ontvang dat hy met een onderskeiding geslaag het. Nila vertel dat Christiaan homself vandag in alle opsigte self kan help en dat hy tans sy pa met die boerdery help.

Die van der Walt’s is baie dankbaar teenoor Christiaan se onderwysers wat hom bygestaan het en altyd bereid was om te help.

Hulle bedank ook drs. Branca en Meintjies en almal wat deel gevorm het van die gebedsgroep en die Hemelse Vader wat die die wonderwerk van genesing laat geskied het.

Exit mobile version