Local newsNews

CMR-kinderhuise baat by groot skenking

Tydens die geleentheid het me. Dippenaar 'n oorsig gegee van die geweldige finansiële uitdagings van die CMR se sentrums.

Dat die MercedesTrophy-gholfuitdaging wat op 11 Maart deur die plaaslike Mercedes Benz-handelaar, De Wit Motors, aangebied is ‘n groot sukses was, is verlede Woensdag onteenseglik bewys toe ‘n ruim skenking van R130 000 aan die CMR Ermelo se Kinder- en Jeugsorgsentrums gemaak is.

Die geld is ingesamel deur skenkings en ‘n veiling ná afloop van die gholfdag.

Een jaar se gebruik van ‘n Mercedes Benz B-klas is ook tydens die gholfdag opgeveil en het groot byval gevind.
Weldoeners wat deur De Wit Motors genader is, het ook bydraes gemaak.

Benewens individuele bydraes, het die borge Mercedes-Benz Financial Services, D&V Bouers, Strauss en Van der Walt Prokureurs, FNB, Woodenways, Botha en Van Dyk Prokureurs, Small to Tall Signs, Dimag, At se Boekwinkel, E.N. Building Supplies, Gawie duToit Makelaars, Pick n Pay, Ermelo Deursentrum, iMPAC, PC Transport, en Old Mutual ingesluit.

‘n Oorstelpte me. Issie Dippenaar, bestuurder van CMR Ermelo, het die reusetjek in ontvangs geneem tydens ‘n oorhandigingsgeleentheid wat bygewoon is deur De Wit Motors se handelshoofde, mnre. Phillip en Marnus Coetzer, en me. Adéle du Plessis, bemarkingsbestuurder van De Wit Motors Ermelo.

Tydens die geleentheid het me. Dippenaar ‘n oorsig gegee van die geweldige finansiële uitdagings van die CMR se sentrums.

Die sentrums is by die Departement Welsyn regregistreer en ontvang wel ‘n staatsubsudie, maar die subsidie is ontoereikend en aanvullende bronne moet gedurig gevind word.
Sy het die versekering gegee dat die geld wat ontvang is in die beste belang van die sentrum se kinders aangewend sal word.

‘n Onmiddellike behoefte bestaan vir bababeddens in die babaeenheid asook die beveiliging van die terrein by die kinderhuis.

Related Articles

Back to top button