Local newsNewsOpinionTerloops

‘Mooi’ moet net raakgesien word

Die Skepper my oë oop en ek sien die prag en praal van Moeder Natuur, spoggerig getooi in haar herfsuitrusting met 'n kaleidoskoop van pragtige kleure.

Om by ‘n gemeenskaps-koerant te werk, het sy voordele en nadele, ernstige tye en ook ligter oomblikke.
Vir die soveelste keer is ek nou die dag weer gevra: “Wat gaan julle doen omtrent die gebarste pyp hier in die straat? Die water stroom in die straat af!

“Julle”? Bedoelende ons wat by die koerant werk?

“Sjoe, meneer, ek weet nie. ons handjies is ‘n bietjie sag om sulke diep gate te grou en buitendien, ons mag nie met die munisipaliteit se eiendom lol nie,” dink ek onwillekerig by myself.

Maar beleefdheid weerhou my daarvan om dit so aan die oproeper oor te dra en ek verneem beleefd na die adres. My voorneme is om die probleem by die munisipaliteit se ingenieursafdeling aan te meld.

Dit is slegs een van die soms snaakse versoeke wat ons vanuit die gemeenskap ontvang.
Dit is dan wanneer ‘n mens weereens begrip kry vir die algemene negatiwiteit en bedruktheid van ons samelewing.

Ons sien ook hoe die mooi dorp van ons uitmekaar val met slaggate, riool-, water- en kragprobleme en algemene gebrek aan instandhouding.

Maar alles is nie verlore nie. Daar is steeds die skepping en die natuur wat vir ons elke dag gratis gegee word. Ons sien dit net nie altyd raak tussen die negatiwiteit, stygende lewenskoste, politieke woelinge en rugbyspanne wat verloor nie.

Die afgelope naweek ry ek dorp se kant toe en sien die vaal, grys-wordende veld en halfkaal bome en ek prewel: “Ja, wintertyd, dis so ‘n neerdrukkende tyd van die jaar.”

Skaars ‘n kilometer verder maak die Skepper my oë oop en ek sien die prag en praal van Moeder Natuur, spoggerig getooi in haar herfsuitrusting met ‘n kaleidoskoop van pragtige kleure.

Skielik is die gedagtes van ‘n neerdrukkende winter wat voorlê, vergete.

My kamera is byderhand en ek vang die tonele vas.

Dan val dit my skielik by. Dit is dieselfde kamera wat saam met my al hartseer, lelike ongelukke, dooies, drenkelinge, korruptes, boosdieners, riool, slaggate, en baie ander slegte dinge “gesien” het.

Maar dan was daar baie meer mooi dinge wat ons saam beleef het, soos die pragtige natuurtoneel wat hier voor my lê.

Toe besef ek weer eens: die mooi van die lewe is dikwels vlak voor ons oë.

Ons moet dit net raaksien en waardeer.

IMG_9029

Related Articles

Back to top button