Local newsNews

Oudonderwyser van EHS oorlede

Neels Coetze, oudonderwyser van Hoërskool Ermelo se Musieksentrum, het op 11 Maart sy stryd teen kanker verloor.

Mnr. Neels Coetze, ‘n geliefde en gewaardeerde oudonderwyser van Hoërskool Ermelo se Musieksentrum, het op 11 Maart sy stryd teen kanker verloor.

Hy het in 2006 van Ermelo na De Rust verhuis, waar hy sy laaste jare deurgebring het.

Neels was vir agt jaar aan die Musieksentrum verbonde waar hy klavier en kitaar onderrig het. Hy was ook ‘n bekwame en vaardige pianis wat dikwels hier opgetree het.

Daarbenewens was hy ook ‘n uitstekende skilder.

Van sy landskapskilderye hang tans in die EHS se personeelkamer en in die hoof se kantoor.

Sy liefde vir diere was alombekend en hy sou moeite doen om enigiets van ‘n muis tot ‘n spinnekop te red as hy kon.

By sy huis het hy ‘n unieke versameling voëls gehad en hy wou nooit ‘n voël aan iemand verkoop of gee as hy nie doodseker was dat daardie persoon die voël die beste moontlike versorging sou gee nie.

In De Rust het Neels ook musiekonderrig gegee, maar dit was eintlik as skilder wat hy vir homself daar naam gemaak het.

Sy skilderye was gesog en hy het menige opdragwerk vir welgestelde en bekende Kaapse sakemanne geskilder.

Sy skilderye is ook uitgestal in kunsgalerye in Pretoria en Stellenbosch.

Deur die jare het die musiekpersoneel en ander Errie-personeel met hom kontak gehou en vir hom gaan dagsê.

Hy sal onthou word vir sy sagte hart, sy besondere liefde vir diere en sy wonderlike musiek-en skildertalent.
Sy heengaan word betreur deur oudkollegas en -leerders.

Related Articles

Back to top button