Local newsNews

Andrew wen landwye fotokompetisie

"Die meisie moes minstens 25 keer dieselfde danspassies uithaal en op die regte plek in die lug spring voordat ons tevrede was."

Andrew Roos van Ermelo maak nie net musiek op klavier of klawerbord nie, maar deesdae maak hy ook “musiek” met sy kamera.

’n Besondere eer het Andrew onlangs te beurt geval toe een van sy foto’s as die wenner in ’n landwye fotokompetisie van die Fotografiese Vereniging van Suid-Afrika (FVSA) as die Maart-wenner in die een- tot driesterafdeling aangekondig is.

Die foto is deur Ermelo Fotoklub ingestuur.

Andrew, eienaar van Brak Ateljees op Ermelo, is bekend vir sy musiektalent en het sowat ’n jaar gelede by die Ermelo Fotoklub aangesluit.

Van meet af het hy sy kunstige oog ingespan om met verskillende tegnieke te eksperimenteer om treffende foto’s te neem.

Hy is ook verlede jaar as die klub se fotograaf van die jaar (junior afdeling) aangewys.

Andrew se wenfoto, getiteld “Dance Motion”, is ’n treffende foto van ’n danseres, Yolandie Jacobsz, wat met ’n mengsel van kleur en beligting ’n studie van sierlike beweging uitbeeld.

Om die eindproduk te kry, was nie so maklik soos net die kamera optel en begin skiet nie.

“Die foto is in my atlejee geskiet en het langer as ’n halfuur geneem om te voltooi. Die meisie moes minstens 25 keer dieselfde danspassies uithaal en op die regte plek in die lug spring voordat ons tevrede was,” het Andrew vertel.

Hy het gebruikgemaak van ambiente lig (natuurlike of beskikbare lig) en ’n wyehoeklens wat op ’n stadige spoed gestel is om die vloeiende beweging van die danseres vas te vang. Daarby is ’n kameraflits ingespan wat op vertraagde tyd gestel is (second curtain flash) om presies op die regte tyd te flits terwyl die danseres in die lug was.

“Ek geniet my fotografie terdeë. Dit is baie ontspannend en mens kan baie kreatief raak. Dit is egter belangrik om die werking van jou kamera deeglik te leer ken,” het Andrew gesê.

IMG_8800
Andrew Roos met sy wenfoto, “Dance Motion.”

Related Articles

Back to top button