Elke dag is ‘n uitdaging

Sou jy 'n kind vra oor "eendag" of self terugdink aan jou toekomsdrome, is om in die strate te oorleef en 'n tentjie langs die dam jou huis te noem in niemand se verwysingsraamwerk nie.

Sou jy ‘n kind vra oor “eendag” of self terugdink aan jou toekomsdrome, is om in die strate te oorleef en ‘n tentjie langs die dam jou huis te noem in niemand se verwysingsraamwerk nie.

Dit is egter die lewe van Michael Bekker en Sifiso, beter bekend as Boetie.

Hulle voer daagliks hul oorlewingstryd teen honger en daggamisbruik.

Die Hoëvelder het met hulle gesels om uit te vind wat tot hul lewe op straat gelei het.
Michael, ‘n parapleeg, nadat sy bene omtrent vyf jaar gelede weens “‘n verkeerde diagnose en mediese nalatigheid” geamputeer is.

Sy verhaal begin 13 jaar gelede nadat hy 10 jaar tronkstraf vir dwelmhandel uitgedien het.

“Ons almal maak foute en ek het my les geleer,” sê Michael en praat openlik oor dié hoofstuk in sy lewe.

Ná sy vrylating, het hy die liefde van sy lewe in Ermelo ontmoet en saam het hulle ‘n seun.

Dinge het omtrent twee jaar gelede skeefgeloop en sy het hom verlaat. Volgens hom mag hy glad nie sy seun sien nie “want die familie glo dat ek steeds met dwelms deurmekaar is”.

Hy ontken dit hewig, maar erken wel sy daggaverslawing. Volgens hom rook hy al 26 jaar.

Dis weens dié verslawing dat hy uit verskeie verblyfplekke gesit is en in ‘n kamertjie wat hy met straatkinders gedeel het, beland het.

Dit is daar waar hy en Boetie ontmoet het.

Ná die afsterwe van sy ma is Boetie wees gelaat en in die sorg van sy “stiefouma” geplaas.

Volgens hom het sy glo baie gedrink en hom emosioneel mishandel tot op ‘n dag dat hy dit nie meer kon verduur nie en weggeloop het.

Snymerke op Boetie se gesig getuig van die laaste vier ongenaakbare jare wat hy op straat moes oorleef.

Twee maande gelede het Michael besef dat hy nie langer onder die gevaarlike omstandighede kan bly nie en het besluit dat dit veiliger by die dam sou wees.

Boetie wou niks weet van alleen agterbly nie en is saam met die hoop op ‘n beter lewe.

Op die vraag oor hoekom hy hom oor Michael ontferm, antwoord Boetie: “If I help him, he gives me something to eat and a place to sleep.”

Saans deel hulle ‘n tentjie met net ‘n kers en twee matjies om op te slaap.

Boetie gaan haal water by ‘n kraan oorkant die pad sodat hulle hulself en die bietjie klere wat hulle besit, kan was.
Soggens durf hul die pad dorp toe aan waar hulle karre oppas in die hoop om ‘n paar rand te kry om iets te ete te koop.

Michael sê dis nie ‘n maklike taak nie omdat sakelui hulle soos “sleg honde wegjaag” wat daartoe lei dat hulle sommige dae vir kos moet bedel.

“Al wat ons vra, is nie om soos honde behandel te word en sleggesê te word nie; ons probeer net daagliks op ‘n eerlike manier oorleef.”

Daar is tog weldoeners wat hulle oor die twee ontferm. Michael vertel van “Loekie” wat drie keer ‘n week vir hulle brood gee en “Tannie Spokie” wat hulle onlangs langs die dam ontdek het en vir hulle ‘n duvet gebring het en haar oor hulle ontferm. Sy loer gereeld in met iets te ete en ‘n geselsie om weer moed in te praat.

Michael se grootste droom is om weer kontak met sy seun te hê en het nadat hy onlangs drie nagte in die tronkselle vir daggagebruik deutgebring het, besef dat hy hulp nodig het om dié verslawing te oorkom.

“As ek skoon (dwelmvry) is, sal ek ‘n ordentlike werk kan kry, want daar is niks met my brein en hande verkeerd nie.

Dan kan ek vir myself en Boetie ordentlike blyplek kry en hopelik weer toegang tot my seun kry.”

Vir nou is die twee steeds afhanklik van ander se goedheid en stoot Boetie elke oggend vir Michael in sy rolstoel na

‘n parkeerarea in die hoop om ‘n paar rand eerder as ‘n uitskel te kry.

Meer oor Michael in Vrydag 21 Februarie 2014 se uitgawe van die Hoëvelder, “Man sy bene kwyt,” kan aanlyn by www.highvelder.co.za gelees word.

Exit mobile version