Editor's choiceLocal newsNews

Theuns van de Vyver sterf ná kankerstryd

Almal met wie hy in aanraking gekom het, het onder die besef gekom van die besondere getuienis wat Theuns as gelowige uitgelewe het.

Theuns Simon Christoffel van de Vyver (67) het op Goeie Vrydag, 25 Maart sy vyf jaar lange stryd teen kanker verloor.

Dit is vir sy familie spesiaal dat die Here hom op dié dag geneem het.

Theuns is op 16 September 1948 gebore en het op hul familieplaas naby Chrissiesmeer grootgeword.

Ná sy huwelik met Hantie, het hulle ‘n rukkie op Ermelo gewoon, totdat hulle ongeveer 40 jaar gelede na die familieplaas getrek het.

Theuns was, afgesien van ‘n kort onderbreking, lid van die Hervormde Gemeente Chrissiesmeer waar hy eers as diaken en toe as ouderling diens gedoen het.

Ongeveer 20 jaar gelede het Theuns skriba van die gemeente geword. Dit was ‘n taak wat hy met ywer en nougesetheid verrig het.

Theuns het die administrasie en werking van die Kerk goed verstaan en dit was nooit nodig om hom te herinner aan ‘n brief wat geskryf moes word of ‘n verslag wat ingedien moes word nie.

Hy is ook dikwels afgevaardig na die Ringvergaderings en het verstandige raad gegee en ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Sy afsterwe laat ‘n leemte in die gemeente en gemeenskap wat moeilik gevul sal word.

Almal met wie hy in aanraking gekom het, het onder die besef gekom van die besondere getuienis wat Theuns as gelowige uitgelewe het.

‘n Goeie vriend uit sy weermagdae, Leon Grobler, onthou hom as altyd stiptelik, gedissiplineerd, netjies en ‘n voorbeeld vir elke kommandolid.

Hy het respek afgedwing by sy ondergeskiktes en het altyd raad vir hulle gehad. Sy hantering van die opleiding en veral die skietoefeninge was altyd professioneel. Sy humor op die skietbaan het gesorg vir baie pret.

“Ons salueer Theuns vir die mens wat hy was en wat in ons gedagtenis sal voortleef,” het Leon gesê.
Sy familie onthou hom vir sy platjie-eienskap en die wyse waarop hy enigiemand kon ophef en uit sy pad gegaan het om ander mense te help.

Geen probleem was ooit te klein of te groot vir hom nie en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

“Hy laat ‘n diep leemte in ons harte, maar ons dank Liewe Jesus dat Hy ons met so ‘n wonderlike man geseën het: pa, broer, oupa, skoonpa, vertroueling en steunpilaar in die samelewing,” het ‘n familielid gesê.

Die familie bedank almal vir hul bystand, oproepe, ondersteuning en aanhoudende gebede tydens die moeilike tyd.
Theuns word oorleef deur sy eggenote, Hantie, seuns Fredri en Francois, dogter Eileen, skoondogter Marlena, skoonseun Chris, vier kleinkinders en ander familie en vriende.

‘n Begrafnisdiens vir Theuns word Vrydag 1 April om 11:00 in die Hervormde Kerk Chrissiesmeer deur dr. Frans Boshoff gelei.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button