TLU sê klem lê op negatiewe

"Die berig is nie 'n juiste weergawe van wat op die meerderheid plase aangaan nie."

Mnr. Danie du Plessis, bestuurder van TLU Oosstreek en nasionale restitusiekoördineerder TLU SA, het gereageer op die berig “Farm dwellers voice range of complaints” (Hoëvelder 19 Februarie).

In die berig is gemeld dat ‘n groep plaaswerkers tydens ‘n sitting wat by die Msukaligwa Munisipaliteit gehou is, verskeie griewe teen sekere boere van die omgewing gelug het.

Van die griewe sluit in bewerings van plaaswerkers se diere wat vergiftig is, verbale mishandeling en selfs dat daar op werkers geskiet is.

Bewerings is ook deur ‘n plaaswerker gemaak dat hy van die grond afgesit is waarop hy van sy kinderdae af gewoon het en wat deur sy voorvaders besit was.

Mnr. Du Plessis het gesê baie stellings in die berig is onwaar en wanvoorstellings en is nie ‘n juiste weergawe van wat op die meerderheid plase aangaan nie.

“Die berig fokus net op die negatiewe,” het hy gesê. “Dié soort beriggewing skaad die verhouding tussen die boer en sy werkers,” het hy gesê.

“Mnr. Koos Mtshweni wat hartstogtelik van sy ‘afsetting’ van ‘n plaas naby Bethal vertel het, is in werklikheid ‘n onwettige plakker op daardie plaas.

“Hy is nie van Ermelo af nie. Sy pa wat op die plaas gewoon het, het sy verblyfreg volgens die Esta-wet verbeur. Die restitusiewet sê duidelik dat indien daar ‘n eis op die grond is, mag die eiser nie op die plaas kom en strukture oprig voordat die eis afgehandel is nie.

“Die boer het dus die volste reg om mnr. Mtshweni op die plaas te verbied,” het mnr. Du Plessis verduidelik.

Volgens mnr. Du Plessis het die berig ook nie melding gemaak nie van die meerderheid boere wie se werkers geskool is en ver bo die minimumloon betaal word.

“Daar is goeie verhoudings wat tussen boere en werkers gehandhaaf word en wie se werkers in goeie omstandighede op die plase woon en werk.”

Mnr. Du Plessis het ‘n uitnodiging aan sleutelrolspelers gerig en gesê hy is bereid om hulle na plase te neem om te bewys dat toestande nie alles negatief is nie.

Exit mobile version