Jong ruiter lééf haar droom

In haar eerste jaar (gr. 3) het sy reeds Mpumalanga-kleure in die 70cm-spronge verwerf .

Skougangers het verlede naweek die voorreg gehad om te deel in die opwinding van die kragsprong met ruiter en perd wat vreesloos oor verskillende hoogtes seil totdat daar net een oor is.

Die wenner van die junior afdeling, Anja van Huyssteen, is ‘n gr.11-leerling van Hoërskool Ermelo en haar liefde vir perde is ingebore.

Anja se ouers boer in die Carolina-distrik waar sy haar laerskoolloopbaan by die CVO-skool voltooi het.
Perde is nog altyd ‘n groot deel van en liefde in haar lewe. Skaars twee jaar oud het sy voor op die saal saam met haar pa begin perdry.

Sy was in gr. 3 toe sy besluit het dat sy graag wil begin skou, die eerste een in die familie, en het by Oubaas de Jager vir opleiding aangeklop.

In haar eerste jaar (gr. 3) het sy reeds Mpumalanga-kleure in die 70cm-spronge verwerf en sedertdien het dié eer haar elke jaar vir verskillende hoogtes te beurt geval.

Anja is in gr. 9 vir die Suid-Afrikaanse uitnodigingspan na Namibië gekies.

Daar het hulle teen ruiters van Namibië en Mauritius meegeding en Anja en haar perd 4U2NV het ‘n eerste plek losgespring en die span het algeheel derde geëindig.

Dinge was nie altyd maklik nie en Anja wou twee jaar gelede, nadat haar perd Queen tydens ‘n rooftog op hul plaas doodgery is, opgee.

Danksy haar sterk geloof en haar ouers se ondersteuning het sy moed geskep en aanhou ry.

Anja het in gr. 4 vir die eerste keer aan ‘n kragsprong deelgeneem en daar het die gogga gebyt.
Die adrenalien-belaaide deel van perdesport is beslis haar gunsteling.

Op die vraag of dit nie vreesaanjaend is nie, antwoord sy bloot: “Nee, tannie, dis lekker. Die geheim is perd en ruiter moet mekaar vertrou. Dit bly een van die dinge wat ek die meeste geniet en ek is mal oor die adrenalien.”

Tussendeur speel sy ook graag netbal, is betrokke by tienertoneel en ander skoolaktiwiteite, het tyd vir ‘n kêrel en het ‘n passie vir Nelstehuis (skoolkoshuis) se kameraadskap en “sussieliefde”.

Volgens Anja is die geheim om gebalanseerd te wees.

Anja hoop om ná skool remedieërende onderwys en sielkunde te studeer en met kinders te werk.

Natuurlik wil sy ook aangaan met perdry.
“Dit is ‘n te groot passie om te los,” sê sy. Anja se droom is om ‘n Springbok-ruiter te wees.
” Oorlede mnr. Bok (vorige EHS-hoof) het altyd gesê ek is ‘n Springbok in hulle midde en ek wil dit graag waar maak.”

Hoewel sy graag ‘n Springbok-ruiter wil wees, hoop sy om soos haar rolmodel, Philippa Jones, internasionale paralimpiese ruiter, ‘n goeie voorbeeld vir jong ruiters te kan stel.

Exit mobile version