Local newsNews

Watergehalte kwel boere

In baie gevalle kan vee nie meer water uit besoedelde riviere en strome suip nie.

‘n Dringende vergadering is onlangs in die EHS Landbou-akademie se saal gehou waartydens talle boere hul kommer oor die toestand van damme en riviere in die Hoëveldstreek en elders uitgespreek het.

Die vergadering is bygewoon deur me. Mariette Liefferink, ‘n bekende in omgewingsake en ‘n invloedryke kampvegter vir ‘n skoon en volhoubare omgewing.

Boere is veral bekommerd dat die gehalte van landbouprodukte bedreig kan word deur erge besoedeling in riviere en damme weens rioolstortings asook onoordeelkundige storting van afvalwater deur sommige myne.

In baie gevalle kan vee nie meer water uit besoedelde riviere en strome suip nie.

Munisipaliteite se skynbare onvermoë om daadwerklik op te tree om verstopte en stukkende rioolpype te herstel veroorsaak dat rou riool gereeld in riviere en damme in dié streek beland. Meeste van dié riviere is voedingsare van die Vaalrivier.

Voorbeelde van erge besoedeling van riviere in en om Ermelo is aan die vergadering voorgehou .

Talle voorvalle waar riool dae lank, en in sommige gevalle weke en selfs maande lank, by mangate uitstroom en onverwerk in spruite en riviere in Ermelo beland, is dikwels in die verlede in die media uitgelig, maar die probleem bly voortduur.

Uitslae van toetse deur die gesaghebbende instansie Regen Waters op watermonsters vanuit verskeie riviere en damme het in November kommerwekkend hoë E.coli-tellings getoon.

Waar die standaard toelaatbare E.coli-tellings in waterbronne nul per 100 ml is, is tellings van meer as 24 196 per 100 ml in die Klein Drinkwaterspruit, die bo-loop van die Ermelo-rioolaanleg, die uitvloei water van die Ermelo-rioolaanleg en die uitvloei van die Amersfoort-rioolaanleg na die Skulpspruit gemeet.

Die Kransspruit het ‘n telling van 1300 eenhede per 100 ml getoon, terwyl die Douglas- en Brummerdam naby Ermelo onderskeidelik tellings van vier eenhede per 100 ml en 23 eenhede per 100 ml getoon het.

Dié toedrag van sake het boere genoop om me. Liefferink te nader om kundige raad in te win en moontlike oplossings te vind om die probleem op te los.

“Dit is kommerwekkend dat die Staat nie daadwerklik ingryp nie teen munisipaliteite en instansies wat ons waterbronne aanhoudend besoedel en versuim om Artikel 19 van die Waterwet af te dwing teen die besoedelaars.

Die rioolbesoedeling van riviere hou ernstige gesondheidsgevare in vir mense, veral kwesbare verbruikers wat aan kroniese en akute wanvoeding en MIV/Vigs ly.

“Dit sluit ook landelike gemeenskappe in wat afhanklik is van rivierwater vir huishoudelike gebruik, en dan natuurlik ook die impak op gewasse en voedselproduksie,” het me. Liefferink gesê.

Die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing (Federation for a Sustainable Environment), waarvan me. Liefferink die hoof uitvoerende direkteur is, het al verskeie suksesse behaal in die stryd teen waterbesoedeling.

Die tyskrif, Vrouekeur, het in hul Januarie 2016 uitgawe geskryf: “Sy dien op meer as 20 adviserend of uitvoerende komitees en nasionale kommisses, onder meer die Departement van Water en Sanitasie, nasionale en streeksreelingskomitees, almal te doen met water of omgewing. Sy is lid van verskillende navorsingsprojekte onder meer van die Noordwes-Universiteit en sy dien ook op die Menseregtekommissie.”

Escherichia coli (E. coli) is ‘n groot en diverse groep bakterieë wat in die natuur, kos en ingewande van mense en diere gevind word.

Hoewel die meeste E.coli skadeloos kan wees, kan sekere vorms erge ongesteldheid soos diarree, urienwegontsteking, respiratoriese infeksies, longontsteking en ander siektes veroorsaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button