Local newsNews

Laaste maaltyd saam by Dienssentrum

Die Msukaligwa Munisipaliteit het onlangs die Dienssentrum aan 'n privaat koper verkoop. Kennisgewing om die sentrum te ontruim is aan die Dienssentrumkomitee bedien.

‘n Somber atmosfeer het verlede Woensdag by die Ermelo Dienssentrum geheers toe ‘n groepie bejaardes en vriende vir die laaste keer ‘n lekker bord ‘Woensdag-kuierkos’ geniet het.

Die Msukaligwa Munisipaliteit het onlangs die Dienssentrum aan ‘n privaat koper verkoop.

Kennisgewing om die sentrum te ontruim is aan die Dienssentrumkomitee bedien wat verantwoordelik was vir die etes wat elke Woensdag teen ‘n uiters billike prys aan bejaardes en enkellopendes voorgesit is. Dié diens word nou gestaak.

Vir sommige mense was dit die enigste gebalanseerde bord kos wat hulle weekliks geëet het. Die etes wat ‘n nagereg ingesluit het, was beskikbaar vir die publiek teen R40 elk.

Die diens is die afgelope 22 jaar by die sentrum aangebied.

Vir dié doeleindes was die kombuisgeriewe uiters geskik en die sentrale ligging van die sentrum het dit gerieflik gemaak veral vir bejaardes om hul inkopies by die nabygelëe winkels af te handel.

Me. Alet du Toit wat sedert 2005 ‘n weeklikse ete by die Dienssentrum geniet het, het die gebeure as “tragies” beskryf en gesê sy het elke week uitgesien na die geselskap van vriende wat sy daar ontmoet het.

“Dit was veral gerieflik vir enkellopendes. Mens is tog nie lus om elke dag vir jouself te kook nie en hier kon ons ‘n heerlike bord kos geniet terwyl daar ook lekker gekuier word.”

Die bestuurder van die Dienssentrum, me. Suzie Swart, het in ‘n emosionele toespraak almal bedank wat hulle oor die afgelope jare besoek en ondersteun het en gesê dit was vir haar en haar voorganger werklik ‘n plesier om te sien hoe mense die weeklikse etes geniet het.

“Dit is vir ons almal ‘n hartseer-dag maar ons sal wel ‘n plan maak om minstens een keer ‘n maand bymekaar te kom. Ons het oor die jare heen baie vriende gemaak en sakelui van Ermelo was ons baie goedgesind,” het sy gesê.

Die ondervoorsitter, mnr. Gideon Geldenhuys, het ook sy teleurstelling met die sluiting van die Dienssentrum uitgespreek en gesê daar sal met verskeie instansies onderhandel word om maandeliks bymekaar te kom en by verskillende restaurante en gastehuise ‘n ete te reël.

“Ons sal die etes ongelukkig nie teen dieselfde prys kan aanbied nie, maar ek is seker ons sal iets kan uitwerk. Dit is tog die samesyn wat belangrik is.”

Enkele gastehuiseienaars het reeds aangebied om die groepie te ontvang.

IMG_3806

IMG_3813

IMG_3814

 

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button