Tannie Jurgie ná kort siekbed oorlede

Tannie Jurgie was welbekend en geliefd in die omgewing.

Tannie Jurgie Kemp se plekkie in die gimnasium is nou leeg.

Die Hoëvelder het in Mei berig oor dié op-en-wakker 80-jarige wat nog twee keer ‘n week in die gimnasium geoefen het.

Sy is Sondag ná ‘n kort siekbed in die Midstream-kliniek in Pretoria oorlede.

Tannie Jurgie is op 6 Mei 1935 op Amersfoort as die enigste dogter van Jurg en Maria van Dyk gebore. Sy het in die distrik grootgeword en was op Volksrust op skool en het aan die destydse handelskool op Ermelo gematrikuleer.

In 1954 het sy met Johannes Kemp in die huwelik getree en Johan en Marie-Daleen is uit die huwelik gebore.

Sy het feitlik haar hele volwasse lewe op Ermelo deurgebring, het eers by die plaaslike landroskantoor gewerk en was later vir 20 jaar sekretaresse by Laerskool Ermelo.

In haar jonger jare het sy graag tennis gespeel en het later by die gimnasium aangesluit waar sy tot kort voor haar dood nog twee keer ‘n week geoefen het.

Sy was baie betrokke by haar kerk en was die laaste jare lidmaat by die NG Kerk Debruinpark.

Haar seun, ds. Johan Kemp, van Cornelia, lei Donderdag om 11:00 die begrafnisdiens vir tannie Jurgie.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version