Speel saam en help sussies

Operasies gaan in die Desembervakansie op Dominique en Wenique uitgevoer word om die spiere in die heupe, knieë en enkels te verleng. Daarby gaan Dominique 'n beeninplanting in haar voete kry om haar platvoetjies reguit te maak.

Fris rugbyspelers het nou eenmaal klein hartjies as dit by omgee kom.

Dit gaan bewys word wanneer die CVO Skool Ermelo op 21 November ‘n sewes-raakrugbytoernooi hou om ‘n jong gesin van Ermelo by te staan met koste van komende operasies vir twee van hul drie kinders.

Dominique (9) en Wenique (8), oudste dogters van Angelique en Waldo Nelson van Ermelo, is albei liggaamlik gestrem nadat hul vroeg gebore is. Dominique is op 28 weke gebore en Wenique op 32 weke.

Die toestand, wat as spastiese diplegie (dubbelsydige verlamming) of “Little’s Disease” bekendstaan, veroorsaak inkrimping of uiterste styftrekking van die bene-, heup- en bekkenspiere.

Diplegielyers loop baie moeilik en kan dikwels nie sonder die hulp van ‘n loopraam of kierie oor die weg kom nie.
Operasies gaan in die Desembervakansie op Dominique en Wenique uitgevoer word om die spiere in die heupe, knieë en enkels te verleng. Daarby gaan Dominique ‘n beeninplanting in haar voete kry om haar platvoetjies reguit te maak.

‘n Lang pad van intensiewe fisioterapie wag op die sussies om hulle te leer om die spiere te gebruik sodat hul die gebruik van hul ledemate effektief kan herwin.

Soos ander kinders van hul ouderdom, is die sussies sprankelend en vol streke. Hulle beweeg op hul eie manier rond en speel ook graag saam met hul jongste sussie, Shenique (6), wat sonder komplikasies gebore is.

Die Nelsons is ‘n hegte gesin en het vroeër vanjaar van Witbank na Ermelo verhuis.

Weens die aansienlike uitgawes en mediese onkoste wat met die kinders se toestand verband hou, is Angelique genoodsaak om te werk. Pa Waldo het onlangs op Bethal werk gekry wat die dag nog langer maak voordat hy tuis by sy gesin kan wees.

“Ons het wel ‘n mediese fonds, maar ons weet nog nie hoeveel van die uitgawes, indien enigiets, gedek gaan word nie, en dit gaan ‘n aansienlike bedrag beloop. Ons is nogtans positief, hoewel dit nie maklik is nie. Om twee liggaamlik gestremde kinders groot te maak is nie maklik nie, maar dit is iets wat ons aanvaar het. Daar kom wel tye wanneer ‘n mens jou afsonder, by ‘n kamer ingaan en agter die toe deur huil, net om te ontlaai. Maar die onvoorwaardelike liefde vir jou kinders bly die oorheersende faktor en mens kry die krag om aan te gaan,” het Angelique gesê.

“Ons wil by voorbaat die CVO Skool bedank vir die geleentheid wat hulle reël. Dit was heeltemal onverwags en ons waardeer almal se insette, liefde en bystand,” het sy bygevoeg.

Die raak-rugbytoernooi is oop vir die hele gemeenskap, sakeondernemings en sportklubs. Spanne van sewe spelers kan ingeskryf word teen R500 per span. Daar is geen beperking op die aantal spanne wat ‘n onderneming mag inskryf nie.

Wedstryde begin om 08:00 by die AJ Swanepoelstadion en verversings sal te koop aangebied word.

Skakel of SMS die naam van jou span asook die naam van die spankaptein en kontak-besonderhede aan 082 417 0175.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version