Editor's choiceLocal newsNews

Rabbedoe dra kroon

Zané se grootste wens is om Roelien Strauss te ontmoet en sy droom om eendag self die Mej. Wêreldkroon te dra.

Zané Kleynhans (8) is as Little Miss Petite SA 2016 gekroon.

Die kompetisie, aangebied deur Beyond 2000, het die afgelope naweek by die Silverstar Casino in Krugersdorp plaasgevind.

Zané was een van 17 deelnemers van die uithoeke van Suid-Afrika wat aan dié kompetisie deelgeneem het.

Die kompetisie vir deelnemers tussen die ouderdomme van vier en agt is oor twee dae beslis.

Die eerste dag moes deelnemers senutergende onderhoude met die beoordelaars voer.

Zané het sommer gou met haar opregte antwoorde die beoordelaars se harte gewen .

Op die vraag wat sy eendag wil word, het sy bloot geantwoord: “Ek is nog te klein om daaraan te dink; ek wil nog eers my kinderlewe geniet.”

Op die tweede oggend het hulle vir die aand se gala-geleentheid geoefen en voorberei.

Eers moes hulle in slenterdrag stap, waarna hulle in hul wit partytjierokke die verhoog verfraai het.

Die reëls van die kompetisie is streng en deelnemers kan nie agter dik lae grimering en opgesmukte haarstyle wegkruip nie.

Zané se natuurlike skoonheid en sprankelende persoonlikheid het aan haar die kroon besorg en ‘n besige jaar vol verantwoordelikhede lê vir haar voor.

Die Droom Groot-projek was haar keuse vir die jaar en sy beoog om ten minste R15 000 vir dié organisasie in te samel.

Sy sal ook beskikbaar wees om geleenthede in haar amptelike hoedanigheid as Little Miss Petite SA 2016 by te woon.

Hoewel sy nie gedurende haar wenjaar aan ander kompetisies mag deelneem nie, is sy doelgerig en sien uit na die uitdaging.

In 2012 het Zané ook aan dié kompetisie deelgeneem toe sy slegs vyf jaar oud was en algeheel sesde geëindig.

Haar ma, Shannon, sê hulle het daarna besluit om vir drie jaar van dié kompetisie te onttrek sodat Zané haar op haar modelwerk kon toespits en sodoende meer ondervinding opdoen.

Volgens Shannon was Zané ‘n skaam dogtertjie en het sy haar by Blush Models onder leiding van Allison van der

Walt ingeskryf om selfvertroue te bou.

Zané het verlede jaar nege titels verower en spog vanjaar met dié van Pre-Teen Lowveld, Hoëveld Skou, Winter

Beauty, Spring Beauty, Summer Beauty en die Little Miss Petite SA.

Shannon beskryf Zané as ‘n regte rabbedoe. Ná haar kroning kon sy glo nie gou genoeg haar skoene uitskop en rondhardloop nie.

Zané lees graag, is lief om gholf te speel en het glo net nou die dag ‘n ruit met ‘n krieketbal uitgeslaan.

Maar haar groot liefde bly steeds die mooi en fyner dinge en sy sonder haar “modeljuffrou” Allison uit as haar rolmodel.

Die rede?
“Sy het my gehelp met my selfvertroue en geleer om nie skaam te wees nie.”

Shannon sê hulle is dankbaar dat die Here vir Zané haar natuurlike talent gegee het en dat Allison gehelp het om dit te ontwikkel.

Zané se grootste wens is om Roelien Strauss te ontmoet en sy droom om eendag self die Mej. Wêreldkroon te dra.
Maar vir eers wil sy net kaalvoetkind wees wat ewe inskiklik, geklee in kortbroek en T-hemp, haar kroon opsit en haar wennersband omhang wanneer haar boeties tydens hul krieketoefening by hul maats wil spog met hul sussie: Miss Petite SA 2016.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button