EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Frank speel dominee

Dit skemer so tussen alles deur dat dinge vir dié arme dominee net nie reg wil verloop nie en dat terugslae hom die een na die ander tref

Frank Opperman het verlede Vrydagaand sy eenmanvertoning, “Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade”, in ‘n volgepakte ouditorium aangebied.

Volgens Frank was dit die 160ste keer dat hy dié stuk, geskryf deur Dana Snyman, opgevoer het.

Die gehoor het gereeld hul waardering vir sy werk betoon deur luide applous en te skaterlag vir sy kwinkslae.

Ds. Benade is die leraar van ‘n sukkelende Moedergemeente op die platteland en probeer die oorsaak van sy dalende gemeentegetalle uitpluis.

Dit skemer so tussen alles deur dat dinge vir dié arme dominee net nie reg wil verloop nie en dat terugslae hom die een na die ander tref: die streng ouderling wat hom gereeld teregwys, die fotograaf wat hom tydens ‘n huweliksbevestiging as ‘n hindernis behandel, die tannie wat hom met haar handsak toetakel en die blompot wat op sy kop val

Intussen probeer hy ook vrugteloos die vraag: “wie is ek?” beantwoord.

Alles is egter nie lighartig nie. Wanneer die hawelose Sparky dood aangetref word op die trappe van die kerkgebou met uitgeskeurde blaaie van die Bybel in sy sak, is daar ‘n keerpunt. Ds. Tienie vaar die agterstrate in om uit te vind of iemand Sparky geken het en daar, tussen die taxistaanplek, die plakkershutte, die roet en rook, besef hy: dis waar die kerk se arbeidsveld is.

Lede van die gehoor het hul waardering uitgespreek vir ‘n puik vertoning en ‘n genotvolle aand.

Gerda Swanepoel het voor die vertoning haar Koekedoor belewenis en hoe dit haar lewe en besigheid verander het met die gehoor gedeel.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button