Local newsNewsSchools

Marius Nel aan die JJ-stuur

Marius Nel die stadsliggies vir Ermelo verruil en Maandag vir sy eerste skooldag as Laerskool JJ van der Merwe se nuwe skoolhoof aangemeld.

Met 23 jaar se ondervinding in die onderwys, het Marius Nel die stadsliggies vir Ermelo verruil en Maandag vir sy eerste skooldag as Laerskool JJ van der Merwe se nuwe skoolhoof aangemeld.

By die skool aangekom, het die leerders wat hom welkom geheet het, hom met drukkies begroet. Dit was vir hom ‘n hoendervleisoomblik en hy het geweet hy sal sommer gou inpas.

Hy was verbonde aan Laerskool Kruinsig in Kemptonpark waar hy Geskiedenis, Aardrykskunde en Liggaamlike Opvoeding as vak gegee het en het die laaste drie jaar die pos van adjunkhoof beklee.

Skoolhoof was die natuurlike volgende stap in sy loopbaan en met Laerskool JJ van der Merwe se goeie naam wat hom vooruit loop en die kringe waarin dié skool meeding, was die besluit om Ermelo toe te kom maklik.

Die skuif gaan vir die hele gesin ‘n aanpassing wees, maar saam het hy, sy vrou, Sunet, en dogter, Teneal, dit ‘n gebedsaak gemaak en hy weet nou dat hy sy skadu op ‘n ander plek moet gooi.

As hoof glo hy dat ‘n goeie balans tussen sport, akademie en kultuur in die leerders se opvoeding gehandhaaf moet word.

Hy verwys veral na die vorige twee hoofde as hy sê dat hy groot skoene moet volstaan, maar met die personeel en ouers wat hom bystaan, sien hy uit na die uitdaging.

Ouerondersteuning lê hom na aan die hart en sy deur staan altyd oop. Deelname is vir hom baie belangrik, hetsy op sport-, kultuur- of akademiese gebied. Elke leerder moet die geleentheid hê om deel te neem al is hy of sy nie toppresteerders nie.

Vir eers is hy alleen in Ermelo en sy gesin sal ná die skooljaar by hom aansluit.

Sunet is ‘n onderwyseres by Laerskool Kruinsig en sal volgende jaar by Hoërskool Ermelo inskakel waar sy Engels as vak sal aanbied. Teneal is in gr.11 en sal haar laaste skooljaar as ‘n Errie voltooi.

“Met die hulp van die Here wat ons hierheen gelei het, sien ons uit na die uitdagings wat voorlê,” het mnr. Nel gesê.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button