Gebore om te dans

As ek ballet doen, leef ek myself in die oomblik in en sluit heeltemal af van die wêreld rondom my

Karli Theron, gr. 12-leerder by Ligbron Akademie vir Tegnologie, se droom van ‘n loopbaan in ballet het verlede week ‘n stap nader aan die werklikheid geword toe sy deur die National Theatre Ballet School in Melbourne, Australië, aanvaar is.

Volgens Karli se ma, Zelda, het sy gedans voordat sy kon loop.

Sy het hulle glo mal gemaak met die gedansery en het op drie jaar haar eerste dansklas bygewoon.

Sy was sewe toe haar ouers van die Rand na Ermelo verhuis het, en sy het dadelik by die Adèle Grey Dansskool aangesluit.

Karli dans al 15 jaar en haar groot liefde is ballet.

Wanneer mense haar vra hoekom sy dans, antwoord sy bloot: “Hoekom asemhaal?”

“As ek ballet doen, leef ek myself in die oomblik in en sluit heeltemal af van die wêreld rondom my,” sê sy.

Karli is ook vertroud met ander danssoorte en presteer in moderne dans wat sy neem om haar fisiek te versterk.

Sy glo dat ballet karakter bou en dat dit nie maklik is nie; wat jy insit, is wat jy gaan uitkry.

Afgesien van die tyd in die dansateljee, oefen sy drie keer per dag in die gimnasium en volg ‘n baie streng eetplan.

Drie goue medaljes by die SA’s en onderskeidings in haar Royal Academy of Dance-eksamens getuig van haar vasberadenheid.

Karli se besluit om haar studies in Australië voort te sit, het grootliks daarmee te doen dat ballet ‘n groter deel van hul kultuur vorm as in Suid-Afrika.

Sy hoop om vir ‘n paar jaar ná haar studies op verhoë in bekende teaters te dans waarna sy haar eie kunsskool wil open.

Karli verwys na haar dansintrukteur, me. Adèle Slabbert, as haar grootste inspirasie.

“Sy druk my tot ek nie meer kan nie en dan nog ‘n bietjie, en dan sê sy kom ons probeer weer.”

Met al die ure in die dansateljee, het Adèle vir haar soos ‘n tweede ma geword en gaan sy haar baie mis.

Karli se ma sê hulle is baie bevoorreg om Adèle as mentor te hê.

“Een van die beste onderwysers met die hoogste standaarde, ‘n goeie voorbeeld vir ander, staan sy eenvoudig uit bo die res.”

Karli weet sy gaan haar dansklas en vriendinne, haar taal, braaivleis en die Suid-Afrikaanse gasvryheid baie mis.

Sy sal altyd hoogtepunte onthou, soos hul opvoering van The Wizard of Oz, die voorreg om met die “kleintjies” te werk en te sien hoe hul liefde vir dans groei.

“Ek sien myself voor ‘n opvoering agter die verhoog rondhardloop met haarsproei terwyl ek seker maak almal kan deur ‘n ring getrek word as hulle op die verhoog gaan.”

Adéle sê Karli se toewyding, lojaliteit en doelgerigtheid sal haar altyd bybly.
Sy glo Karli is sterk genoeg om die druk oorsee te hanteer en dat baie deure vir haar sal oopgaan.

“My wens vir haar is om al haar drome te bereik en dat die visie wat sy het, werklikheid sal word,” het Adéle gesê.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version