Lekker rus, Meneer

Ná 41 jaar diens in die onderwys het die tyd aangebreek vir mnr. Sakkie Malan, skoolhoof van Laerskool JJ van der Merwe, om die tuig neer te lê.

 

Ná 41 jaar diens in die onderwys het die tyd aangebreek vir mnr. Sakkie Malan, skoolhoof van Laerskool JJ van der Merwe, om die tuig neer te lê.

Mnr. Malan was 33 jaar betrokke by dié laerskool waar hy die laaste agt jaar hoof was.

Hy het sy onderwysloopbaan in 1974 by Laerskool Queenswood in Pretoria begin waarna hy ‘n aanstelling by Laerskool Louis Leipoldt in Centurion aanvaar het.

In 1981 is hy aangestel as departementshoof by Laerskool JJ van der Merwe, in 1986 is hy bevorder tot adjunkhoof en agt jaar gelede het hy die pos as hoof aanvaar.

Maar nou sien hy daarna uit om lekker te gaan rus, aandag aan sy boerdery te skenk en saam met sy vrou, Ivy, deur die land van die Weskus tot in Namakwaland te toer.

Mnr. Malan vertel dat die skool deel van sy lewe geword het en dat hy die opregtheid van die kinders sal mis.

Briefies van leerders getuig van die besondere indruk wat hy gemaak het.

Ané skryf dat sy hom altyd sal onthou as die meneer wat die mooiste Bybelversies in die saal gelees het en Danika beskryf hom as vriendelik en saggeaard.

Cathy onthou sy teenwoordigheid by sportbyeenkomste en gaan sy gebed mis.
Hoewel Nikita dit gaan mis as hy haar gelukwens wanneer sy in atletiek presteer het, reken sy “meneer is regtig te oud om te bik (sic) en skool te gee, Dankie vir als, meneer.”

Mnr. Malan kan nie een hoogtepunt in sy loopbaan uitsonder nie; vir hom was elke sukses wat ‘n leerder in sport of akademie behaal het, iets besonders.

Hy is dankbaar vir sy gesondheid, dat hy die stryd teen kolonkanker gewen het en dat hy die voorreg het om saam met Ivy te kan aftree.

Hulle kleinkinders bly ver en hy sien daarna uit om hulle meer te sien en hulle sport- en kultuurbyeenkomste by te woon.

Van Ntuthuko wat hom gaan mis omdat hy haar naam verkeerd sê tot Hero wat dankbaar is dat “meneer” altyd vriendelik is al was hulle stout, is almal dit eens dat hy as hoof baie geliefd was a en dat hy nie gou vergeet sal word nie.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version