Daar is nog mense wat vir ander omgee

Ermelo se mense het net weer bewys dat hulle kan uitreik en dat daar nog baie goedheid skuil in die deurmekaar wêreld waarin ons leef.

Net toe ek begin voel ons lewe in ‘n ongenaakbare wêreld, bewys die goeie samaritane om ons my verkeerd.

Ons is die afgelope tyd in die nasionale media oorval met negatiewe berigte uit alle oorde.

Mense wat hul lewensmaats om verskeie redes vermoor, ander wat hul lewens weens misdaad verloor en berigte oor moontlike satanistiese betrokkenheid wat veroorsaak het dat ‘n jong meisie in haar huis verkrag, vermink en vermoor is, het my met vrees en weersin vervul.

Bedrog en ander onheilighede soos feitlik nuwe treintrokke wat lê en verroes eerder as om herstel te word en wat die land se beursie leeggemaak het, het meegebring dat ek my kop net in ongeloof skud en probeer glo dat ek gaan wakker word en alles wat rondom my gebeur net ‘n nare droom was.

Ek was net nie meer gemaklik om die koerante te lees of op TV-nuus in te skakel nie, maar moes ter wille van my werk op hoogte bly.

Toe tref misdaad iemand baie naby aan my en iemand anders in my binnekring beleef die een terugslag na die ander en ‘n hele familie word daardeur geraak.

Geloof en hoop maak dat ek kop laat sak en vorentoe beur.

‘n Vriend van my sê altyd: “En nou gaan ons maar aan” en ek het daardie leuse voluit geleef.

Ná ’n lekker langnaweek saam met goeie vriende wat ‘n besoek aan die Wildtuin. Pelgrimsrus en ander pragtige dorpe ingesluit het en koerante en TV-nuus uitgesluit het, kom ek uitgerus en vol moed by die werk aan

Skielik draai alles rondom my in ‘n positiewe rigting.

Weereens skud ek my kop in ongeloof, maar dié keer vir ‘n heel ander rede.

‘n Weldoener bied aan om van die misdaadslagoffer se gesteelde goedere te vervang en hulp uit verskeie en onverwagte oorde bring die uitkoms waarop ’n familie in nood gebid het.

Ermelo se mense het net weer bewys dat hulle kan uitreik en dat daar nog baie goedheid skuil in die deurmekaar wêreld waarin ons leef.

Ander mense se goeie dade het gemaak dat ek weer tussen die slaggate en rommelhope deur die mooi van ons dorp en sy mense raaksien.

Dankie aan elkeen wat daagliks, sonder om ‘n ophef daarvan te maak, ‘n verskil in iemand anders se lewe maak. Dit gaan beslis nie ongesiens verby nie..

Maar, ai, net toe my son op sy helderste skyn, speel die Bokke hul eerste Wêreldbekerwedstryd teen Japan, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version