Sewe-jarige kind deur voertuig raakgery

Twee vroue wat Saterdagoggend in die middedorp inkopies gedoen het, is op die hoek van Kerk- en Joubertstraat deur 'n motor omgery.

Ermelo het lanklaas ‘n ongelukvrye week beleef.

‘n Sewe-jarige kind is verlede Donderdag in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem nadat hy in Mandela-rylaan deur ‘n voertuig raakgery is.

Die kind is met hoofbeserings en skaafplekke deur ‘n verbygaande motoris met sy privaat voertuig na die hospitaal vervoer.

Aanvanklike vrese dat die kind na ‘n hospitaal op Witbank oorgeplaas moes word vir neurosjirrugiese behandeling is besweer toe sy toestand teen Vrydag merkbaar verbeter het.

 

Twee voertuie was Vrydagdagoggend omstreeks 01:45 in ‘n botsing op die hoek van Wes- en Bührmannstraat betrokke. Die bestuurder van een van die voertuie het van die ongelukstoneel weggery..
Dit is nie bekend of hy beserings opgedoen het nie. Die bestuurder van die tweede voertuig het slegs geringe snywonde opgedoen.

In nog ‘n ongeluk later dieselfde dag het die bestuurder van ‘n ligte voertuig beheer oor sy voertuig verloor waarna dit die pad verlaat en omgeslaan het. Die ongeluk het op die grondpad tussen Breyten en Welgelegen gebeur. Niemand is ernstig beseer nie en die die bestuurder het vervoer na die hospitaal geweier.

Twee vroue wat Saterdagoggend in die middedorp inkopies gedoen het, is op die hoek van Kerk- en Joubertstraat deur ‘n motor omgery toe hulle die straat wou kruis. Albei word tans in Pretoria vir ernstige beserings behandel.

Een van die vroue het onder andere ‘n skouerbesering opgedoen, terwyl die ander ‘n gebreekte been en beseerde ribbes het. Verdere besonderhede was teen druktyd nie beskikbaar nie.

Maandag is drie mense lig beseer in ‘n boting tussen twee voertuie op die pad tussen Ermelo en Hendrina. Twee van die beseerdes is deur nooddienspersoneel van die Mpumalanga Ambulansdienste na die Ermelo Provinsiale Hospitaal vervoer waar hulle ná behandeling ontslaan is.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version