GeneralNews

Polisieman se plek is leeg

"Hy was altyd behulpsaam en sy ervaring gaan beslis gemis word. Hy laat 'n groot leemte hier by ons"

‘n Geliefde en gewilde lid van die polisie se Misdaad-intelligensie-eenheid op Ermelo, kapt. Deon Joubert, is op 13 Augustus, ‘n dag ná sy 54ste verjaardag, in die Highveld Mediclinic op Trichardt ná ‘n stryd met kanker oorlede.

Hy was ten spyte van sy siekte nog aktief in sy werk en het etlike weke gelede ‘n skielike terugslag met sy gesondheid beleef.

Johannes Deon Joubert het in Januarie 1980 by die destydse Suid-Afrikaanse polisiemag aangesluit en was op Bethal gestasioneer.

Hy was ook ‘n tyd lank aan die Binnelandse Veiligheidseenheid by die Oshoek-grenspos verbonde voordat hy by die Misdaadintelligensie-afdeling op Ermelo aangesluit het waar hy van 1993 tot en met sy afsterwe diens verrig het.

Deon is deur kollegas beskryf as ‘n toegewyde polisieman wat sy werk met deeglikheid en passie verrig het.

“Hy was ‘n kalm mens en het baie goeie mense- verhouding gehad. Hy was altyd behulpsaam en sy ervaring gaan beslis gemis word. Hy laat ‘n groot leemte hier by ons,” het ‘n kollega, kapt Elsabe Stander, gesê.

Deon was ook bekend vir sy liefde vir radio-beheerde motortjies en het hom beywer om dié stokperdjie onder die gemeenskap bekend te stel.

Hy laat sy gewese vrou, Annatjie, met wie hy 27 jaar getroud was, kinders Melissa en Stephan asook twee kleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button