Local newsNews

Een dood, talle in botsings beseer

Ermelo ongeluksyfer neem toe.

 

Vrydagaand omstreeks 19:00 het ‘n taxi in ‘n bees vasgery op die pad tussen Ermelo en Piet Retief. Die bestuurder kon daarin slaag om die voertuig onder beheer te bring, waarna dit die pad verlaat en in die veld tot stilstand gekom het. Die bestuurder wat alleen in die voertuig was, is ongedeerd.

Terwyl nooddienspersoneel op die toneel was, het nog ‘n botsing op die ongelukstoneel plaasgevind. Drie mense het geringe beserings in dié ongeluk opgedoen en is op die toneel behandel, waarna hulle na die Ermelo Provinsiale Hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.

Omstreeks middernag het ‘n noodlottige ongeluk waarin vier ligte voertuie en ‘n vragmotor betrokke was, op dieselfde pad en ongeveer 20m van Ermelo plaasgevind.

Een persoon is op slag dood en nog een is ernstig beseer. Nege ander is minder ernstig beseer en het behandeling op die toneel ontvang.

Die pad was ‘n geruime tyd vir verkeer gesluit, terwyl nooddiens- en opruimingspersoneel op die toneel besig was.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Drie voertuie was Dinsdagoggend omstreeks 05:45 in ‘n botsing betrokke op die pad tussen Ermelo en Hendrina. Die ongeluk het op die brug by die Douglasdam plaasgevind. Geen beserings is aangemeld nie, maar een van die voertuie is erg beskadig. Die struktuur van die brug is ook beskadig.

In nog ‘n botsing wat verlede Donderdag net buite Ermelo op die afdraaipad na Amsterdam gebeur het, is een persoon ernstig beseer en het twee geringe beserings opgedoen.

Volgens die bestuurder van een van die voertuie, het hy aangedui dat hy regs op die pad na Amsterdam gaan indraai en was reeds besig om so te doen, toe ‘n ander bakkie met ‘n kappie en vier insittendes hom probeer verbysteek het.

Die twee voertuie het gebots en die voertuig met die vier passasiers het van die pad se skouer afgery en ‘n paar meter verder onder in ‘n stormwatervoor tot stilstand gekom.
Die bestuurder was ongedeerd, maar die drie passasiers is beseer, een ernstig.
Die bestuurder en passasier van die eerste voertuig het geen beserings opgedoen nie.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button