Huurhuis word bouval

Rampsbestuur ondersoek bevind dat die gebou onbewoonbaar is.

Inwoners van ‘n huis in Ermelo was geskok toe die kombuismuur van hul huurhuis Maandag laatmiddag ingetuimel het.

Volgens een van die inwoners was sy in die huis doenig toe sy die slag hoor en was sy geskok toe sy die kamerdeur oopmaak om ondersoek in te stel en vind dat sy “buite staan”.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Volgens ‘n inwoner bly 11 mense in die huis.

Ermelo Rampbestuur is ontbied en ‘n ondersoek is dadelik geloods.

Die Hoëvelder het met die eienaar van die huurhuis gepraat om uit te vind wat van die huis en huurders gaan word.

Eerstens het hy gesê hoe dankbaar hy is dat niemand in die voorval beseer is nie.

Hy gaan die gebou sloop ná ‘n vergadering met die rampsbestuur wat hom ingelig het dat die gebou nie bewoonbaar is nie.

Hy was geskok toe hy uitvind hoeveel mense daar woon.

Volgens hom het hy die huis aan ‘n man wat saam met sy vrou, dogter en kleinkind daar woon, verhuur.

Dié man woon glo lankal nie meer daar nie en het die woning sonder die eienaar se wete onderverhuur.
Hy het nooit onraad vermoed nie, want die huurder se dogter het elke maand stiptelik die huurgeld betaal.

Rampbestuur het vir die inwoners tydelike verblyf by verskeie plekke in die dorp aangebied, maar die eienaar het drie kamers in ‘n ander perseel wat hy in die dorp besit, tot hul beskikking gestel.

Hy is ook bereid om hul besittings sonder enige koste na die nuwe blyplek te vervoer en die eerste trek het reeds Dinsdag plaasgevind.

Die eienaar is ook van voorneme om die huurders, wat reeds hul huurgeld aan “hulle verhuurder” betaal het, nie huurgeld vir die volgende maand te vra nie.

 

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version