Ou vriende groet

Lewies en Wilma Janse van Rensburg groet Ermelo ná 41 jaar.

Lewies en Wilma Janse van Rensburg het in 1974 hul wortels op Ermelo kom vestig.

Sedertdien het hulle diep spore in die gemeenskap getrap.

Nou, ná 41 jaar, groet hulle Ermelo en verhuis binnekort na Pretoria.
As tekenaar van die planne vir die destydse nuwe steenkoolspoorlyn, het Lewies ná die voltooiing daarvan aangebly en was tot in 2012 by Transnet werksaam as senior ingenieurstegnikus.

Ná sy aftrede het hy sy eie argitekspraktyk geopen en die talle geboue in Ermelo wat uit sy tekeninge gespruit het, sal ‘n blywende herinnering aan hom wees.

Bykans die helfte van Merloth Estate, die EHS se gedenkmuur, en geboue soos dié van Auto Pedigree en Botha & Van Dyk om maar ‘n paar te noem is, deur Lewies ontwerp.

Wilma het in 1975 as onderwyseres by Hoërskool Ermelo aangesluit.

Wiskunde en Wetenskap was haar vakke, maar dit was ‘n tydelike huishoudkundepos wat haar hele loopbaan verander het.

Wilma se liefde vir die vak het gegroei en sy vertel dat dit vir haar ‘n hartsvak geword het.

Sy was nou betrokke by die stigting van die EHS se hotelskool en die oorskakeling na Gasvryhe­id­studies.

Wilma vertel spottend dat sy nou al ‘n “oumagrootjie-juffrou” is. Sy het vir ma’s en daarna hul dogters klasgegee en word steeds deur die eerste generasie as “juffrou” gegroet.

In 2006 het Wilma ‘n departementele pos as vakadviseur vir Gasvryheidstudies in die Gert Sibande-distrik aanvaar waar sy werksaam was tot met haar aftrede in Mei vanjaar.

Hulle verhuis na Pretoria om nader te wees aan hul familie, kinders en kleinkinders na wie Wilma verwys as haar “hart se punt se harde vet”.
Wilma beoog om betrokke te raak by gemeenskapswerk en natuurlik is kleinkinders-bederf hoog op haar prioriteitslys.

Lewies kan ook nie ledig sit nie en is reeds besig met ‘n projek in Pretoria.

Dis tot siens maar nie vaarwel nie.

Lewies gaan nog sy kantoor op Ermelo behou en sal gereeld kom om toesig oor projekte te hou.

Wilma sê sy sal ook gereeld kom kuier om “die plooitjies bietjie te polish” en hare te laat versorg.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version