Local newsMunicipalNews

Pensioenaris beseer toe hy in gat val

Geen waarskuwings of versperrings is rondom die gat aangebring nie.

’n 75-jarige pensioentrekker van Ermelo, mnr. Hannes Vogel het erge kopbeserings, snye en kneusplekke opgedoen toe hy in ’n gat geval het wat na bewering bykans twee jaar gelede op ’n sypaadjie in Murraystraat oopgegrou is.

Volgens mnr. Vogel, n suikersiektelyer, het hy omstreeks 01:30 Dinsdagoggend wakker geword om sy medikasie te neem. Weens ’n kragonderbreking kon hy nie in die donker kamer sien nie en het besluit om kerse te gaan koop by ’n deurnag-kafee, skaars 100 meter van sy woning af.

“Ek wou nie my dogter wakker maak nie en buitendien, mens stuur nie ’n vrou daardie tyd van die nag alleen uit nie,” het hy verduidelik.

Hy het hom in die donker straat misgis met die breedte van die voetpaadjie wat langs die sloot verby gaan, en moontlik ook oor ’n kabel gestruikel en op ’n hoop ourommel en vullis onder in die gat beland. Hy het ’n diep snywond op sy kop asook snye en kneusplekke op sy oogbank en gesig opgedoen.

Mnr. Vogel meen hy het minsten 20 minute in die koue gelê en om hulp geroep. ’n Motoris wat ’n kitsbank naby die kafee besoek het het sy hulpkrete gehoor en hom bygestaan.

’n Ambulaans is ontbied en hy is na die Ermelo Provinsiale Hospitaal geneem waar hy behandeling vir sy beserings ontvang het.

“Die gat staan nog al die tyd oop met geen waarskuwings of versperrings rondom dit nie. Ons het dit reeds verskeie keer aangemeld maar daar word net mooi niks daaraan gedoen nie,” het hy gesê.

Mnr. Vogel het sy misnoeë teenoor die Msukaligwa munisipaliteit uitgespreek en gesê hy is van plan om verdere stappe te neem.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button