Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Kerk voer slaggatstryd

Die Moedergemeente van die Hervormde Kerk Ermelo het besluit om op te hou kla en iets daadwerklik aan die slaggate in die dorp se strate te doen.

Wie moet motoriste bedank as hulle vind dat verskeie slaggate op hul roetes behoorlik met teer herstel is en nie bloot met sand of grond opgevul is nie?

Dié diens kom uit ‘n onverwagte oord.
Die Moedergemeente van die Hervormde Kerk het besluit om op te hou kla en iets daadwerklik aan die slaggate in die dorp se strate te doen.

Aanvanklik is dr. Piet van Zyl, predikant van die gemeente, se voorstel om so ‘n mal perd op te saal met ‘n paar skewe kyke begroet. Die gemeentelede het egter ingestem dat dit ‘n goeie idee is en hul samewerking belowe.
So het die groot beplanning begin.

Tau Pele wat tans die pad tussen Bethal en Morgenzon herstel, het 150 sakkies sagte teer en ‘n drom SS60, ‘n bindmiddel, vir dié projek geskenk.
Saterdag het ‘n groepie manne by die kerk bymekaar gekom vir opleiding.

Eddie Dinnematin, ‘n ingenieur en lidmaat van die gemeente, het verduidelik hoe die gate herstel gaan word.
Eerstens word die gat met ‘n kompressor skoon geblaas, daarna word dit met SS60 geverf en ná ‘n rukkie word die gat met sagte teer gevul en saamgepers.

Die drie spanne het in ‘n kort tydjie meer as 50 gate van klein tot baie groot gevul. Mense wat Taute-, Laffnie- en die hoeke van Taute- en Murraystraat gebruik, gaan reeds ‘n groot verskil opmerk.
Die ywerige gemeentelede gaan probeer om eerskomende Saterdag Laffnie- en Tautestraat klaar te maak en dan in Buhrmann- en De Bruinstraat te begin.

Daar is letterlik duisende gate en die herstel daarvan kan nie sonder hulp en op die kerk se eie koste plaasvind nie.

Daar is reeds nog twee skenkings van 100 sakkies elk sagte teer ontvang, maar daar word heelwat meer as dit benodig en die hulp van sakeondernemings en inwoners word gevra.

Die gemeentelede is bereid om die werk te doen, maar hulle het geld nodig om teer aan te koop.
Mense wat ‘n bydrae wil maak, kan dit in die kerk se bankrekening inbetaal. Die besonderhede is: ABSA rekeningnommer 0870580061, rekeningnaam: NHKA Ermelo, bankkode: 632005.
Merk asseblief die inbetaling: Slaggatherstel.

Elke sent sal gebruik word om koste te dek om gate te herstel.
Vir navrae, skakel dr. Van Zyl by 017 811 2434.

Related Articles

Back to top button