Local newsNewsOpinionTerloops

Terloops

My hart is ook weer van vooraf met dankbaarheid gevul vir die hoogtepunte wat ek oor die afgelope jare met my kinders kon deel.

Sondag was Moedersdag.
Sosiale netwerke is ingespan vir moeders en kinders om hul liefde en waardering vir mekaar uit te spreek en restaurante was vol bespreek om ma’s die dag voor die kospotte te spaar. Beurtkrag het veroorsaak dat die manne wat wou kook eerder die braaivleisvure moes aansteek. Niks kon egter die gees van dié dag demp nie.
My ma is al 85 en al kon ek nie die dag saam met haar deurbring nie, was dit met groot dankbaarheid in my hart dat ek die oproep gemaak het om haar ook geluk te wens en te bedank vir al haar liefde oor die jare heen. Ek is bevoorreg om so ietwat meer as 30 jaar die titel van Mamma met trots te dra. Omdat my oudste twee in die Kaap is, het hul geskenke, telefoonoproepe en boodskappe en die feit dat Sussie darem naby is, so ‘n bietjie getroos en het my gedagtes ver paaie geloop.
Ek het gedink aan die ma’s wat deur oseane van hulle kinders geskei is en ook aan dié wat deur hulle kinders vooruitgegaan is en nie eers die vertroosting van Skype of ‘n telefoonoproep gehad het nie. My hart is ook weer van vooraf met dankbaarheid gevul vir die hoogtepunte wat ek oor die afgelope jare met my kinders kon deel.  Ek onthou hoe bekommerd ek as ‘n baie jong ma was dat ek nie vir die groot taak opgewasse sou wees nie en nie altyd in my kinders se belang sou optree nie.
Met die regte leiding en die hulp van Hom wat nooit ‘n fout maak nie, is ek vier jaar na Ouboet se geboorte geseën met, in my oë, die pragtigste dogtertjie. Groot was my bekommernis dat daar nie plek in my hart sou wees vir nog ‘n kind nie, omdat ek vir vier jaar al my ma-liefde op my seuntjie uitgestort het. Nie vir ‘n oomblik was dié vrees gegrond nie, aangesien ek reeds tydens my swangerskap vir haar haar eie kamer in my hart aangebou het en sy in ons lewens verwelkom is. Agt jaar later is Sussie gebore en is ons gesin voltooi. Weer was sy vir my net die pragtigste mensie.
Ek was verwonderd oor die besef dat daar in ‘n ma se hart genoeg plek vir baie kinders is en selfs ander ma’s se kinders het ook hulle holtetjie gekry. Die huis was nooit te klein vir al die kinders wat op een slag daar wou slaap nie. Ek het ook nooit opgehou om dankbaar te wees vir die vreugde wat moederskap in my lewe gebring het nie en was elke jaar opreg bly oor die ekstra moeite wat my gesin op Moedersdag gedoen het. Intussen het ons die begin en einde van skoolloopbane, loopbane wat begin is, verhoudings, verlowings en selfs ‘n troue gevier
Vandag is al drie my kinders groot en staan hulle op hul eie voete. Ek is dankbaar dat ek kan sê dat hulle steeds weet Ma is altyd daar en dat hulle nog die vrymoedigheid het om selfs wanneer dinge in hul lewens nie so glad verloop soos hulle dit graag sou wou hê nie, steeds die foon kan optel en weet ek is daar om hulle na die beste van my vermoë met raad en daad by te staan. Ek moes myself nou onderbreek om ‘n vriendin wat so pas gehoor het haar “tweede ma” het gesterf, te gaan vertroos. Ek gebruik graag dié geleentheid om hulde te bring aan ‘n ma en ouma wat soveel kinders en kleinkinders in haar 80 jaar op aarde onder haar vlerk geneem het en vir haar drie susterskinders en hul kinders so lief was soos vir haar eie.
Rus in vrede, Ouma Bieps.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button