Liggies wys hulle het veggees vir eindstryd

Ligbron Akademie vir Tegnologie se wintersportspanne is goed verteenwoordig in Superreeks eindstryd.

Ligbron Akademie vir Tegnologie se John Wright Veneers eerste span het Saterdag vir die tweede agtereenvolgende jaar na die eindstryd van die Superreeks deurgedring nadat hulle Hoërskool Secunda met 29 – 24 in die halfeindstryd geklop het.

Die Liggies kom eerskomende Saterdag in die eindstryd teen Hoërskool Tuine van Pretoria te staan.

Die jong Liggie-span vertoon sterker met elke wedstryd en hoewel hulle nie as die gunsteling beskou is nie, het elke speler sy kant gebring en uitmuntende veggees getoon.

Die eerste helfte het redelik wipplank gery en die Liggies was met rustyd 10 – 3 voor nadat Gert Cronjé ‘n drie gedruk en verdoel het. Die Liggies het ook ‘n strafdoel behaal.

In die tweede helfte is Ligbron se Eddie Dludlu, Ethan Dinnematin en Marnus Scheepers elkeen met ‘n drie beloon. Gert Cronjé het twee van die drieë verdoel om Ligbron se telling op 29 te staan te bring.

Die Liggies is daarna met twee geelkaarte gestraf en Secunda het hul kanse gebruik om die telling na 29 – 24 te laat krimp. Die Liggies het egter met met rotsvaste verdediging verhoed dat Secunda nog punte aanteken en die wedstryd tot groot vreugde van hul ondersteuners gewen..

Ligbron se tweede span het ook sy halfeindwedstryd teen Hoërskool Wagpos van Brits met 12 – 0 geklop en speel Saterdag in die eindstryd teen Hoërskool Brandwag.

Die 0/16-span was die enigste span wat Saterdag aan die verloorkant was toe hy ‘n klipharde stryd teen Hoërskool Tuine met 12-18 verloor het. Die span sal Saterdag vir die derde plek in die reeks teen Hoërskool Jan Viljoen uitspeel.

Die 0/15-span het sy wedstryd teen Brandwag met 21 – 18 gewen en speel die naweek ook in die eindstryd teen Hoërskool Secunda.

Die 0/14s het Hoërskool Gerrit Maritz met 30 – 12 oorrompel en speel Saterdag teen Hoërskool Wagpos vir die vyfde plek in die reeks.

Al die wedstryde word by Hoërskool Die Wilgers in Pretoria gespeel.

Hokkie

Ligbron se hokkiespanne het die afgelope Saterdag uitstekende uitslae behaal in die halfeindstryd van die Superreeeks wat op die velde van Hoërskool Brandwag in Benoni gespeel is.

Die eerste span het Hoërskool John Vorster met 10 – 0 verslaan. Mareleen Dinkelman is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die tweede span het ook teen Hoërskool John Vorster gespeel en met 8 – 0 geseëvier. Buntu Tshabalala was die Speler van die Wedstryd.

Ander uitslae is: 0/16’s klop Hoërskool Tuine 9 – 0 (Speler van die Wedstryd: Lindi Mostert); 0/15’s klop Hoërskool Dinamika 4 – 2 (Speler van die Wedstryd: Nicola Bruwer) en die 0/14’s klop Hoërskool Die Wilgers 7 – 0 (Speler van die Wedstryd: Hlali Sibanyoni).

Al die Ligbron-hokkiespanne speel Saterdag in die eindstryd van die Superreeks by Hoërskool Die Wilgers.

Netbal

Ligbron se eerste netbalspan het Saterdag in die halfeindstryd van die Superreeks teen Hoërskool Brandwag van Benoni te staan gekom en die wedstryd 19-26 verloor.

Die Liggies sal eerskomende naweek teen Jan Viljoen vir die derde plek in die reeks uitspeel. Anders tellings was: 0/14: Ligbron 12, John Vorster 11; 0/15: Ligbron 20, Gerrit Maritz 14; 0/16: Ligbron 14, Wilgers 15; tweede span Ligbron 14, Secunda 11.

Exit mobile version