GeneralLocal newsNews

Connie leef met genade van Bo

"Dis ’n wonderwerk dat ons vandag hier kan staan en alles is deur die Here se genade en die krag van gebed."

’n Wegbreek-kuiernaweek op 26 Oktober verlede jaar het hul lewens in ’n oogwink verander toe Peter en Connie Williams se reis deur ’n

trompopbotsing kortgeknip is.

Dit was omstreeks 16:00, 10km buite Hendrina op die pad na Middelburg toe ’n aankomende voertuig se bestuurder die sperstreep om ’n draai op ’n

blindehoogte verontagsaam het.

Peter wat die motor bestuur het, het vergeefs die aankomende voertuig probeer vermy en sekondes later was alles vir Connie net ’n vae herinnering.

Peter is nie beseer nie, maar Connie het nie so lig daarvan afgekom nie.

Sy was vier dae in ’n koma en het onder meer ’n gebreekte bobeen, groottoon en ribbes, ’n vergruisde gewrig en ernstige

inwendige beserings opgedoen.

Dokters het die ergste gevrees en haar kinders is uit Londen, die Kaap en Pretoria ontbied om hul moeder te groet.

Maar deur die krag van gebed en bystand deur familie en vriende het Connie se stadige pad na herstel begin.

Ná meer as vyf weke in die intensiewesorgeenheid, moes sy ’n reeks operasies ondergaan en op 28 Desember is sy die eerste keer uit die hospitaal

ontslaan.

Connie moes ook in ’n rehabilitasiesentrum weer leer loop.

Sy vertel dat die Here haar deur alles gehelp het.

“Hy het my hand vasgehou. Al was daar niemand anders by my nie, is my hand die hele tyd vasgehou.”

Connie en Peter vertel ook van die samaritane wat hulle bygestaan het nadat die ongeluk gebeur het.

“Daar was ’n lang Engelssprekende man wat glo op ’n myn in die omgewing werk wat die heeltyd by my gesit het tot hulp opgedaag het.”

Connie het nie ’n idee wie die man is nie, maar as sy kon, sou sy hom graag wou bedank.

Peter vertel ook van ’n egpaar van Hendrina, Corrie en Madelie Wolmarans, wat dadelik stilgehou en hom bygestaan het.

Volgens Peter het Connie die nooddienste ontbied en selfs nugter genoeg gedink om hul bagasie en juweliersware in veilige bewaring te kry sou die ongelukstoneel geplunder word.

Connie het in Februarie nog ’n operasie ondergaan en sterk goed aan. Vandag stap sy in haar geliefde tuin en saam is die egpaar dankbaar vir familie, vriende en samaritane wat hulle deur gebed deur die onsekere tye gehelp het.

Connie is veral dankbaar teenoor ds. DF Ehlers, die NG Kerk de Bruinpark se gemeentelede en haar familie en vriende wat nooit ophou bid het nie.

“Dis ’n wonderwerk dat ons vandag hier kan staan en alles is deur die Here se genade en die krag van gebed.”

Related Articles

Back to top button