GeneralLocal newsNews

’n Roos in die SAVF-tuin

Sy glo dat jy self jou lewe gelukkig of ongelukkig maak en sy hoop dat die tuin wat vir haar soveel vreugde bring, ook die lewe vir die ander inwoners ophelder.

As jy soggens vroeg verby die SAVF-Huis ry, is die kans goed dat jy tannie Ria Welman in die tuin sal sien werkskaf.

Winter of somer is daar geen keer aan dié dinamiese inwoner wat op 85-jarige ouderdom steeds haar liefde vir tuinmaak uitleef nie.

Tannie Ria, ’n oud Ermeloër het 41 jaar haar dienste aan die onderwys gewy.

Haar eerste aanstelling as onderwyseres was by die destydse Kleinspanskool waar sy onder leiding van me. Visagie vir nege en half jaar skool gehou het.

Sy het haar loopbaan afgesluit toe sy as departementshoof in Piet Retief afgetree het.

Oral waar sy kom, maak sy tuin, ’n voorliefde wat sy nog altyd gehad het.

Tannie Ria het 19 jaar gelede haar eerste roosbome in die SAVF se tuin geplant en vertel dat sy nou heerlik pluk aan die pragtige blomme.

Snyrose is haar gunstelingblom.

Tannie Ria vertel dat sy ten minste drie keer ’n week van soggens vyfuur vir vier tot vyf ure in die tuin werk.

Sy woon in ’n woonstel in die tehuis en as sy nie in die tuin doenig is nie, maak sy graag kos, lees en speel kaart.

“Ledigheid is die duiwel se oorkussing” sê tannie Ria, terwyl sy verduidelik dat sy soggens so vroeg opstaan omdat haar dae “doodeenvoudig te kort” is vir alles wat sy wil doen.

Tannie Ria koop self haar plante en saadjies en betaal ook self die man wat haar in die tuin help.

“Dit is my geskenk aan die ouetehuis,” sê sy.

Sy glo dat terwyl die SAVF so goed na die inwoners se welstand omsien, dit haar manier is om dankie te sê vir alles en almal wat hulle oor die bejaardes ontferm.

Tannie Ria is baie dankbaar is vir die kompos wat geskenk is en sy glo dat sy weer op die skenkers sal kan staatmaak.

Dit is duidelik dat sy baie gelukkig by die tehuis is en sy kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike personeel en diens wat hulle verrig nie.

Sy glo dat jy self jou lewe gelukkig of ongelukkig maak en sy hoop dat die tuin wat vir haar soveel vreugde bring, ook die lewe vir die ander inwoners ophelder.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button