GeneralLocal newsNews

Oor vuil taal en heuningbekkies

Wat my egter bitter teleurstel en laat skaamkry vir my eie volk is die onopgevoede karakters wat na ’n sekere Afrikaanse radiostasie inbel en die vieslikste vuil taal en sêgoed kwytraak tydens lewendig inbel-uitsendings.

Ek beskou myself nie as die mees toegewyde of gereelde televisiekyker nie. Buiten nuus bulletins en sport wat op die ‘arm-man’ se kanale uitgesaai word kyk ek maar min kassie-goed.

Al skottelrige goed wat soms in ons huishouding te vinde is, is skottelgoed en dit alleenlik direk ná ete. Dan verander dit in breekgoed en eetgerei en word netjies weer in hul eie kassie-goed gebêre.

Dit alles bring mee dat ons huishouding op die goeie outydse radio aangewese is vir meeste van die daaglikse vermaak en interessante gebeure.

En watter rykdom interessanthede en kennis-verbredende programme en luisterstof is daar nie, waarvan sommige gereelde televisiekykers nie van bewus is nie. Net soos die omgekeerde die geval is met my en skottel Tee Vee.

Wat my egter bitter teleurstel en vir my eie volk laat skaamkry is die onopgevoede karakters wat na ’n sekere Afrikaanse radiostasie inbel en die vieslikste vuil taal en sêgoed tydens lewendig inbel-uitsendings kwytraak.

Die arme omroepers word somtyds heel onkant gevang en die kwetsende beledigings en vuil taal wat die lafaards kwyt raak bederf die programme vir ons almal.

Ek wonder net wat bereik die lafaards daardeur? Gee dit hulle ’n gevoel van mag of ’n mate van tevredenheid om sulke lafhartige gedrag op die eter te openbaar?

Wat mens nie kan verstaan nie is dat hulle braaf genoeg is om vieslike taal oor die lug te gebruik maar nie mans (of vrou) genoeg is om hulle identiteit te openbaar nie. Ja, daar is ook vroue wat inbel en die vieslikste taal uit hul andersins heuningbekkies laat kom.

Toegegee, ons almal raak nou en dan gefrustreerd met die dinge van die lewe en dan glip daar krag woorde uit wat liewers moes gebly het. Maar om net vir die lekkerte daarvan oor die lug te vloek en vieslik te wees is na my beskeie mening heel onvanpas. Dit plaas ’n klad op ons identiteit, kultuur en alles wat ons as ’n volk met trots oor die eeue heen opgebou het as sogenaamde beskaafde mense.

Ek vertrou eerlikwaar dat die betrokke radiostasies moeite sal doen om die skuldiges met die hulp van tegnologie op te spoor en hul name bekend te maak. Ten minste kan hul aan die man gebring word.

Dit sal werklik tot my luistergenot bydrae as ek hoor hoe mnr. of me. X uitgewys word as die vuilbek wat op ’n sekere program sy of haar opvoeding deur die modder gesleep het.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button