GalleriesLocal newsNewsNews galleries

(Vuil)ige rus (foto gallery)

“Word daar dan geen behoorlike onderhoud in Ermelo gedoen nie? Dit is beslis nie dieselfde netjiese dorp waar ek jare gelede gewoon het nie,” het ’n oud-inwoner van die dorp wat die begrafnis bygewoon het, gesê.

Groot was die ontnugtering vir ’n familie wat onlangs hul moeder in Ermelo se begraafplaas te ruste moes lê.

Om ’n geliefde aan die dood af te staan, is nie maklik nie en die laaste ding wat mens verwag, is dat die plek waar jou laaste eer betoon word, slordig en verwaarloos is.

Die gebou by die ingang is ’n duidelike aanduiding van wat besoekers binne die hekke te wagte is.

Hier en daar steek ’n grafsteen uit bo die gras, maar ander grafte is heeltemal toegegroei met onkruid.

Volgens een van die familielede, moes hulle self tuindienste huur om die gras om die graf te sny sodat die begrafnisgangers daar kon staan.

Maar as mens verder deur die begraafplaas stap, word die ware toedrag van sake eers duidelik.

Deur die jare heen dien die begraafplaas as ’n kortpad huis toe vir inwoners van Wesselton wat aan die begraafplaas grens.

Duidelike voetpaaie vleg deur die grafte en panele is uit die grensmuur verwyder vir makliker toegang.

Party paadjies loop selfs oor die grafte en die hele terrein is met bierbottels en rommel besaai.

Verder op teen die grensmuur word die begraafplaas as stortingsterrein gebruik waar afval van boumateriaal tot matrasse bloot oor die muur gegooi word.

Stap jy verder langs die grensmuur op, raak die reuk ondraaglik waar riool uit ’n verstopte of gebreekte pyp van een van die huise stroom en die hele pad deurdrenk.

Dié stuk pad is onbegaanbaar vir ’n voertuig en die riool vloei ook tussen die grafte in.

’n Skrywe is aan die munisipaliteit gerig in die hoop om antwoorde te kry oor die toedrag van sake, maar teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.

Tydens ’n opvolgbesoek aan die begraafplaas is daar wel gevind dat die munisipaliteit begin het om die gras te sny.

“Word daar dan geen behoorlike onderhoud in Ermelo gedoen nie? Dit is beslis nie dieselfde netjiese dorp waar ek jare gelede gewoon het nie,” het ’n oud-inwoner van die dorp wat die begrafnis bygewoon het, gesê.

 

For free breaking and community news, visit our websites:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

Like our Facebook page and follow us on Twitter.

For news straight to your phone invite us:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button