Terloops, “Thanks for nothing.”

Die grootste, beste en mees opwindende krieketbeurt in die geskiedenis van die spel word landwyd, wêreldwyd en tot in die ruimte gebeeldsend en ons (wat nie kragopwekkers het nie) hier in Msukaligwa loop dit mis!

 

Die grootste, beste en mees opwindende krieketbeurt in die geskiedenis van die spel word landwyd, wêreldwyd en tot in die ruimte gebeeldsend en ons (wat nie kragopwekkers het nie) hier in Msukaligwa loop dit mis!

Ons kon weens ’n kragonderbreking nie saam met die res van die wêreld kyk nie hoe AB de Villiers die Wes-Indiese boulers met sy goue kolf aan flarde slaan. Die een rekord na die ander word opgestel en ek kan dit nie sien nie.

Ek verstaan die kragonderbreking was vooruit beplan en noodsaaklike instandhouding moes gedoen word, maar, eish, toe gebeur dit juis op daardie dag!  Dankie, Eskom! “Fanks for nuffing!”

Mense, ek was byna buite myself van frustrasie. Kyk, ek is ’n groot krieketondersteuner. Vra net vir my vrou. Ná al die jare verstaan sy nog nie die spel nie en het ook nog nie geleer wanneer sy tydens ’n wedstryd op die kassie mag praat of nie praat nie. Die tweede opsie is natuurlik die meeste van die tyd van toepassing. Vra maar vir enige krieketliefhebber.

Maar die afgelope naweek se wedstryd… mense!

Daar was ek, soos Ben, van Ben, Babsie en familie van ouds, met die piepklein draagbare radio teen die oor vasgedruk. Op en af stap ek en trek skewe gesig van frustrasie want ek kon nie sien hoe AB die bal vir ses lopies of ’n vier slaan nie, en, mense, soos julle weet, dit was baie keer.

En dan kom die boodskappe van my suster en swaer wat by die stadion is. Hulle is altwee sportfotograwe vir tydskrifte en nasionale koerante.

“Jy moet dit sien om dit te beleef, Boet, AB gaan mal!”

“Ek kan dit nie op die kassie kyk, nie want die krag is heeldag af,” stuur ek terug.

“Ag, shame, jy moes hier gewees het,” stuur hulle weer.

“Sjarrap net,” stuur ek kortaf.

Oe, weet julle watse pyn het ek deurgemaak! (‘Skuus, dis Worsie se ma se lyn daai.)

En AB gaan steeds mal en die kommentator op die radio gaan mal. Die hondjie vervies haar vir my en gaan lê in haar mandjie, want ek spring op en af en gooi haar speel-toutjie kort-kort oor die grens vir ’n ses, soos wat AB die een ses na die ander slaan. My vrou het haar lankal vir my vervies, want nou mag sy nie eers fluister nie!

Dan besef skielik.  Jinne, maar ons het wraggies aan die kassie verknog geraak! Ons het oor die jare heeltemal bederf geword met al die sport en gebeurtenisse wat ons in die gemak van ons sitkamers kan kyk.

Het dit nie tyd geword dat ons weer in groot getalle na ons plaaslike rugbyvelde, krieketvelde en ander sportvelde toe gaan en ons eie manne en vroue ondersteun soos in die “ou tyd” nie?

Dit is tog baie meer gesellig en ons kan skree en op en af spring sonder dat mense (of hondjies) dink ons is mal.

Ons kan nog steeds die Ben en Babsie-radiotjie saamvat om die “scores” van die groot wedstryde te hoor.

Maar as AB weer so ’n truuk trek, haas ek my huis toe om dit op die kassie te kyk – mits daar nie ’n kragonderbreking is nie

Exit mobile version