Local newsNews

Rus sag, tannie Joy

Sowat drie jaar gelede het ons tannie Joy Benecke met haar vertrek uit Ermelo gegroet met die woorde: “Dit is tot siens, maar nie vaarwel.”

In die vroeë oggendure van Vrydag, 9 Januarie was dit toe inderdaad tyd om te sê: “Vaarwel, tannie Joy, en rus sag daar waar jy nou is.”

Tannie Joy is skielik aan hartversaking in ’n Krugersdorpse hospitaal oorlede.

Sy is 85 jaar gelede in Mafikeng gebore en het op Klerksdorp skoolgegaan.

Sy het haarself as verpleegsuster in die Addington-hospitaal bekwaam en later met Koos Liebenberg getrou.

Drie seuns, Koos, Charl en Chris, is uit die huwelik gebore. Sy het die seuns in Morgenzon grootgemaak en sowat 41 jaar gelede na Ermelo verhuis waar sy 38 jaar gewoon het.

Drie jaar na haar man se dood het sy met oom Frikkie Benecke in die huwelik getree en nog drie kinders, Johan, Daleen en Liana, ryker geword.

In 2011, sowat drie jaar na oom Frikkie se dood, het sy na ’n aftree-oord in Krugersdorp verhuis.

Toe die Hoëvelder destyds by haar gaan kuier het om te groet, het sy met ’n vonkel in haar oog vertel dat haar ouers die aand voor haar geboorte na ’n musiekopvoering gegaan het en inderhaas hospitaal toe moes gaan toe sy haar opwagting wou  maak.

Haar Engelse pa het besluit om haar Joy te noem, omdat sy ná ’n aand vol vreugde gebore is en sy volgens hom “the joy of my life” was.

Sy het ook haar musiekliefde by haar pa geërf, het klavier gespeel en baie jare in die kerkkoor gesing.

Die saamgestelde gesin het oor die jare aangegroei en tannie Joy was ’n toegewyde ouma vir haar 19 kleinkinders en nege agterkleinkinders.

Sy en oom Frikkie was lede van die woonwaklub en saam het hulle kuier-kuier die land deurkruis.

“Ma Joy was ’n statige dame. Sy was ’n baie goeie vrou vir ons pa in die 29 jaar wat hulle getroud was en was altyd gereed om ons kinders met raad en daad by te staan. Sy het ’n baie persoonlike verhouding met haar Skepper gehad en dit was vir ons as haar kinders en kleinkinders baie gerustellend om te weet sy bid altyd vir ons,” het Liana gesê.

Tannie Joy was meer as 50 jaar by die Vrouediens betrokke, maar het in 2011 die tuig daar neergelê. Sy was ook baie jare lank lid van ’n Bybelstudiegroep wat elke Woensdagoggend vergader het.

Tannie Joy was ’n fyn Engelse dame en sal onthou word vir die pragtige teetafels wat sy altyd vir haar vriendinne en familie gedek het.

“Die tee uit haar Royal Albert koppies was die lekkerste tee wat ek in my lewe gedrink het,” het ’n vriendin met ’n glimlag onthou.

Sy was ook baie lief vir tuinmaak en het altyd ’n pragtige tuin gehad.

“Ek voel baie naby aan my Skepper in my tuin en verlustig my graag in die blommeprag,” het tannie Joy destyds gesê.

“Ma Joy was ingestel op die fyner dinge in die lewe. Sy het altyd almal se verjaarsdae en huweliksherdenkings onthou en dit spesiaal gemaak. Elke kind en kleinkind besit vandag nog ’n Bybel of twee met ’n persoonlike boodskap en teksvers voor in geskryf wat sy en oupa Frikkie vir ons gegee het. Op haar stil manier het sy van die Beneckes en Liebenbergs een hegte gesin gemaak en nooit onderskeid tussen die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders getref nie.

“Ons sal haar onthou as ’n fyn, liefdevolle mens wat rotsvas geanker was in haar liefde vir Jesus wat sy vrylik met almal gedeel het,” het Daleen bygevoeg.

’n Begrafnisdiens vir tannie Joy vind vandag (Vrydag) om 11:00 in die NG Kerk de Bruinpark plaas.

 

Related Articles

Back to top button