Ikoon se hande is stil

Me. Gretchen Celliers, ’n alombekende en geliefde ikoon van Ermelo, is op 18 Desember, bykans ’n maand voor haar 73ste verjaardag, dood ná ’n stryd met haar gesondheid.

Me. Gretchen Celliers, ’n alombekende en geliefde ikoon van Ermelo, is op 18 Desember, bykans ’n maand voor haar 73ste verjaardag, dood ná ’n stryd met haar gesondheid.

Gret, soos sy alombekend was, sal onthou word as iemand wat werklik ’n verskil in die gemeenskap en die omgewing gemaak het.

Sy was veral bekend vir haar kunstalent, haar liefde vir blommekuns en die natuur.

Sy het vir baie jare die mooiste blommekuns beoefen en menige spoggeleenthede, troues en onthaalsale is deur haar kunstige hand versier.

Sy was ook baie jare lank ’n lid van die Ermelo Tuinbouklub waar sy ook verskeie kere as  die voorsitter gedien het.

Gret het ’n besonderse gawe gehad om tuine uit te lê en vele erwe in Ermelo en die omgewing is onder haar bekwame leiding in pronktuine omgeskep.

Sy het ’n groot liefde vir bome en die natuur gehad en die oorsprong van vele bome inErmelo geken en aangeteken.

Haar pragtige klede versier ookverskeie kansels in Ermelo-kerke. Gret het ’n studie gemaak voor sy elke kanselkleed gemaak het en baie simboliek is kunstig in elke kleed ingewerk.

Later in haar lewe het sy begin skilder en dié kuns het, soos met al haar vorige kunsrigtings, ongelooflik ontwikkel en haar skilderye pronk as kosbare besittings in talle huise.

Gret was ook in die beginjare ’n lid van Tuiskoop en het deur die jare ’n sagte plekkie vir dié besonderse tuisnywerheid gehad.

Saam met haar man, Japie, het sy diep spore in die gemeenskap van Ermelo getrap.

Volgens haar skoonsuster, me. Elmarie Celliers, het Japie en hul kinders, Tina en Dale Groenwald, Japie en Minisa en Riaan en Sarita en hulle kinders Mirinka, Jacob, Daniel, Jacobus, Celene, Marthinus, en Japie-Chris, Andre-Dale en Greghan ongelooflik goed na Gretchen omgesien en haar lyding vir haar teen die einde draaglik gemaak.

Die familie rig ’n spesiale woord van dank en waardering aan die dokters wat Gret oor jare versorg het, veral dr. Brenda Steyn wat Gret bygestaan het, asook die personeel van Ermelo Mediclinic.

Die begrafnisdiens het op 22 Desember op die familieplaas Roodewal plaasgevind.

Exit mobile version