CrimeNews

Gesin op plaas aangeval

Die gesin was besig om bagasie uit die voertuig te laai toe die groep mans, sommige met vuurwapens en ander met messe gewapen, op hulle toegesak het.

Mnr. Kerneels Beukes van die plaas Rolfontein naby Amersfoort, sy vrou Annemarie (albei 42), hul dogter Tanya (16) en ’n kuiergas, Lize Erasmus (16), is Sondagaand 21 Desember deur ’n bende van minstens ses aanvallers oorval en van ’n vuurwapen en twee selfone beroof.

Volgens mnr. Henry Geldenhuys, nasionale voorsitter Veiligheid-TLU SA, het die voorval omstreeks 17:00 plaasgevind toe die gesin teruggekeer het huis toe na ’n daguitstappie.

Die gesin was besig om bagasie uit die voertuig te laai toe die groep mans, sommige met vuurwapens en ander met messe gewapen, op hulle toegesak het.

Hulle is beveel om op die gras te lê terwyl daar vuurwapens op hulle gerig is. Tanya het in die voertuig terug gespring en daar is op haar geskiet, maar sy is nie getref nie.

Kerneels en sy dogter kon egter daarin slaag om in verskillende rigtings weg te hardloop en het hulp ontbied. Een van die aanvallers het Kerneels agternagesit en twee het Tanya probeer inhaal.

Albei kon daarin slaag om die aanvallers te ontwyk.

Intussen is Annemarie en Lize deur die oorblywende aanvallers die huis ingedwing.

Die booswigte het geld en wapens geëis, maar Annemarie kon daarin slaag om haar vuurwapen in die hande te kry en een van die verdagtes in die hand te skiet. Die aanvallers het die wapen by haar afgeneem en haar met ’n handwapen in die gesig geslaan.

Die aanvallers het op die vlug geslaan toe lede van die plaaswag op die radio aktief geraak het.

Kort daarna het boere wat na die toneel gehaas het hulle in drie van die verdagtes vasgery. Wapens is op die boere gerig en een van die verdagtes in die daaropvolgende skietery noodlottig gewond.

Die stasiebevelvoerder op Amersfoort, lt kol. G.S. Ncgobo, het vroeër dié week bevestig dat ’n tweede verdagte in hegtenis geneem is. Daar word nog na die oorblywende verdagtes gesoek.

Hy het ook bevestig dat ’n klag van moord ondersoek word.

In ’n telefoniese onderhoud met die Hoëvelder het mnr. Beukes gesê die gesin is dankbaar dat hulle die voorval oorleef het.

“Dat ons almal lewendig anderkant uitgekom het, is net ’n Gods wonder,” het hy gesê.

Mnr. Geldenhuys het op sy beurt sy dank en waardering uitgespreek teenoor lede van die plaaswag vir hul vinnige reaksie en tersefdertyd boere gemaan om heeltyd paraat te wees.

“Veral dié tyd van die jaar. Mense is geneig om rustiger te raak en die booswigte buit die situasie uit,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button