Local newsNews

Ons gaan jou mis, tannie Erna

Om tot siens te sê, is nooit lekker nie.

 

By Morgenzon Landbou Akademie het die tyd aangebreek om Erna Janse van Rensburg ná 40 jaar te groet.

Vir die kinders was sy nie net ’n onderwyseres nie, maar ook ’n rolmodel in vele opsigte. Vir die groter kinders was sy tannie Erna, ouma Erna vir die kleineres en Granny vir die Engelssprekende leerlinge.

Sy het Afrikaans met so ’n passie aangebied dat onderwysers in die klaskamers langs haar saam weggevoer is met die gedigte wat sy vir die kinders voorgelees het.

“Sy het nie net die gedig gelees nie, sy het die gedig geword,” het een van haar kollegas gesê.

Kinders in haar klas het nie van “tjoklits” gepraat nie en elkeen van haar leerders kan sjokolade spel. Suiwer taalgebruik is vir haar baie belangrik.

Haar spesiale manier van groet – “goeie môre, julle outjies” – sal deur die leerders gemis word.

Erna was ook baie betrokke by die drama-afdeling en die koor.

Sy het oor die vermoë beskik om noodsaaklike lewenslesse so saam met die taalgebruik en spelling aan die leerders oor te dra.

“Ons gun jou die welverdiende rustyd om rustig te raak en die tyd saam met jou man, Loekie, kinders en kleinkinders te geniet, maar ons gaan jou mis,” het haar kollegas gesê

Related Articles

Back to top button