Local newsNewsOpinionTerloops

Afrikaans het lekker woorde en raakvat beskrywings

Die Engelse taal het byvoorbeeld nie ’n woord soos ‘lekker’ nie. “Nice” is tog nie “lekker” nie, of hoe?

Afrikaans het soveel lekker woorde en raakvat beskrywings.

Die Engelse taal het byvoorbeeld nie ’n woord soos ‘lekker’ nie. “Nice” is tog nie “lekker” nie, of hoe?

Ek meen, waar anders kan ’n mens  oor “koeitjies en kalfies” praat en letterlik na plaasdiere verwys of figuurlik gesproke oor ditjies en datjies gesels?

Die koeitjies en kalfies wat deesdae in ons dorp se strate ronddwaal en in ons tuine wei, is werklik rede tot kommer. Vir my dui dit op ’n “kan-nie-worrie”-houding van die owerhede. O, gaats, daar is nou ’n Engelse woord wat beter klink in Afrikaans! “Worry” klink mos beter in Afrikaans.

Nou ja, daar was ’n tyd toe dit teen die munisipale wet was om diere soos beeste, skape, melkbokke en wilde diere in die dorpsgebied aan te hou. Deesdae wals die kalfies en hul mammas na hartelus in die dorp rond, nie net in Ermelo nie, maar in feitlik elke dorp in Suid Afrika.

Die ander soort kalfies is mense-kalfies wat my baie na aan die hart lê.

Ja, ons matriekkalfies en skoolverlaters wat binnekort hul skoolloopbane gaan afsluit en die wye wêreld invaar.

Ai, oom se kalfies, wees tog asseblief versigtig en staan sterk. Soveel keer hoor ons van jong kinders wat wegbreek vir ’n lekker jol nadat hulle klaar eksamens geskryf het en dan die pad letterlik en figuurlik byster raak. Oom is glad nie gekant teen wegbreek of jol nie, maar dan moet dit met versigtigheid gedoen word. Moet nie bestuur as jy alkohol gedrink het nie en moet nie saam met iemand in die kar klim as hy of sy gedrink het of snaakse goed gerook het nie.

Elke jaar lees of hoor ons van seuns en dogters wat in motorongelukke dood is op pad na of terug van ’n jol af. Sorg dat dit nie jy sal wees nie. Neem verantwoordelikheid vir jou eie lewe.

Dit geld ook alle motorbestuurders, veral in die komende feestyd. Moet nie dat jou onverskilligheid die oorsaak word van hartseer en verdriet in jou eie en ander huise nie.

Op ’n ligter trant, het jy geweet mens kan nie in Engels “jol” nie?

Ons souties jol maar ook in Afrikaans. “Going for a lekker jol” kan nie in Afrikaans omgesit word nie!

Toe, “try” dit!

Related Articles

Back to top button