Local newsNews

Engele om ons

Nege jaar gelede het Roux en Phillipa Pienaar ’n pragtige babadogter in hul lewens verwelkom.

Nege jaar gelede het Roux en Phillipa Pienaar ’n pragtige babadogter in hul lewens verwelkom.

Hul vreugde het gou in kommer verander, want hul babadogter, Lexi, is met ’n toe fontanel (skedelopening) gebore.

Lexi moes dringend ’n operasie ondergaan om ’n stuk van haar skedel te verwyder sodat haar brein normaal kon ontwikkel en later weer toegroei soos dié van ’n baba.

Die O-negatiewe bloed wat sy benodig het, was egter nie beskikbaar nie.

So het Roux en Phillipa wat jare lank al bloedskenkers is, hulle na die Ermelo Bloedbank gewend in die hoop dat hulle sou kon help om iemand met dié skaars bloedgroep op te spoor.

Dit is toe dat hulle hul engel in die vorm van sr. Maureen Bothma, takbestuurder SANBD Ermelo, ontmoet het.

Maureen het toevallig dieselfde bloedgroep en het dadelik ingestem om ’n skenking vir Lexi te doen.

Maureen is ’n bekende gesig by die bloedbank waar sy op 1 November, 23 jaar gelede, begin werk het.

Sy onthou Lexi nog goed en vertel dat die gesin gereeld by die bloedbank kom kuier het en dat sy in almal se harte ingekruip het.

Lexi se operasie was ’n sukses en vandag, nege jaar later, is sy ’n aktiewe jong meisie wat lief is vir sport en spog met 95% gemiddeld op haar skoolrapport, hoewel haar fontanel nog nie heeltemal toegegroei het nie.

Philippa sê Lexi verwys na tannie Maureen as haar engel wat haar ’n kans op die lewe gegee het.

Vier jaar ná Lexi se geboorte, is haar sussie, Rochelle, met dieselfde probleem gebore, ’n verskynsel wat volgens spesialiste baie raar in een gesin is.

Gelukkig is Rochelle se bloedgroep O-positief en kon haar pa met dieselfde groep vir haar skenk en is sy vandag ’n borrelende vyf-jarige dogterjie.

Die gesin het intussen na Ceres verhuis en kontak is verbreek totdat Annemarie Meyer, lid van die skenkerkomitee en koördineerder in Davel, moes voorberei vir ’n praatjie wat sy verlede week by die SANBD se skenkersmedaljeseremonie moes lewer.

Annemarie het die gesin weer opgespoor en was verheug om te hoor dat Lexi ’n gesonde negejarige is.

In haar toespraak het sy verwys na skenkers wat met liefde lewe aan ander gee, en Lexi se engelstorie vertel.

Lexi, Roux en Phillipa stuur vir Maureen baie liefde en sê dat hulle haar nog glad nie vergeet het nie.

’n Dankie-briefie van Lexi aan Maureen laat mens met hoendervleis.

Almal is nie so bevoorreg soos Lexi en Maureen wat mekaar ontmoet het nie, daarom vra die Bloedbank se personeel dringend: skenk bloed en word die engel in iemand anders se lewe.

Related Articles

Back to top button