Ronnie en sy span beste in die land

Ermelo Polisie se K9-eenheid onder bevel van kapt. Ronnie Schilling is Vrydagaand as die beste eenheid in die land aangewys tydens die 2014 Nasionale SAPD/Tracker-toekennings wat op Kyalami plaasgevind het.

Ermelo Polisie se K9-eenheid onder bevel van kapt. Ronnie Schilling is Vrydagaand as die beste eenheid in die land aangewys tydens die 2014 Nasionale SAPD/Tracker-toekennings wat op Kyalami plaasgevind het.

Die toekenning is aan kapt. Schilling, wat ook as die top K9/Tracker-bevelvoerder aangewys is, oorhandig deur Minister van Polisie Nkosinathi Nhleko tydens ’n glansgeleentheid wat bygewoon is deur finaliste van eenhede van oral in die land, talle hoog-aangeskrewe polisiebeamptes en BBP’s asook verteenwoordigers van versekeringsmaatskappye en Crime Line.

Dit was die 15de keer dat die Tracker/SAPD-toekennings aangebied is.

Die geleentheid verleen erkenning aan alle wetstoepassers, offisiere en eenhede wie se toegewydheid en toepassing van Tracker-tegnologie ’n aansienlike verskil gemaak het met die terugvinding van gesteelde en gekaapte voertuie.

In sy toespraak het Min. Nhleko hulde gebring aan al die leiers in die stryd teen misdaad in die land.

“Met meer as 1400 opsporingstoestelle wat in polisievoertuie geïnstalleer is, is dié vennootskap met Tracker ’n sprekende voorbeeld van wat bereik kan word as kennis en kragte saamgesnoer word in die bekamping van misdaad,” het hy gesê.

Tot op datum het dié vennootskap daartoe gelei dat 68 000 voertuie reeds teruggevind is en meer as 13 000 inhegtenisnemings is gemaak.

“Dit is ook ’n bewys dat tegnologie ingespan kan en moet word om die stryd teen misdaad voort te sit,” het hy bygevoeg.

Eenhede is gemeet aan bydraes tot misdaadondersoeke, aantal voertuie teruggevind, aantal arrestasies en ook die koõrdinering van operasies.

Die Ermelo K9/Tracker-eenheid spog met ’n 100-persentsuksessyfer uit 25 aktiverings met een uit drie inhegtenisnames, terwyl die nasionale sukses syfer 94 persent is en Mpumalanga 93 persent sukses behaal het.

Die wenners het ’n sertifikaat en ’n trofee ontvang asook ’n tjek vir R10 000 wat oorbetaal gaan word aan ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse.

Daarbenewens is kapt. Schilling as Top K9/Tracker-bevelvoerder na Phoenix, Arizona in Amerika genooi om die International Association of Auto Theft Investigators Annual Training Seminar by te woon.

Kapt. Schilling het die sukses wat die eenheid behaal het, toegeskryf aan die bereidwilligheid van elke lid van sy span om deurentyd sy of haar beste te lewer.

“Dit is inderdaad ’n spanpoging en ek is besonder trots op my span. Ons is 17 mense in die spanvan wie 11 operasioneel is, maar elkeen is ’n baie belangrike en waardevolle skakel in ons hegte ketting,” het hy gesê.

 

Exit mobile version